VOLRAAM of KROP SENSOR – MAAK DIT WERKLIK SAAK

Hierdie keuse raak gewoonlik nie die amateur fotograaf wat so pas begin met digitale fotografie nie omdat alle intree DSLR kamera rompe van die krop tipe is, maar vir die gesoute amateur fotograwe en professionele fotograwe is dit ‘n baie belangrike vraag.

Waar kom die term volraam vandaan?

Dit is ‘n nalatingskap van die ou dae toe almal nog film kameras gebruik het. In 1909 het die fotografiese wêreld besluit om te standardiseer op ‘n film raampie grote van 36mm x 24mm (met ‘n wydte tot hoogte verhouding van 3 : 2 so gekies omdat hierdie verhouding goed op die oog val, vandaar dus die hoogte van 24mm). Om ‘n losstaande foto op ‘n rol film te kon vaslê is daar besluit om die foto se werklike afmeting met 0.5mm bo en onder kleiner te maak en ‘n spasie van 1mm tussen raampies te laat wat tot gevolg gehad het dat hierdie formaat bekend geword het as die 35mm formaat. Hierdie standaard of formaat was dus ook die keuse van alle groot SLR (“single lens reflex”) kamera vervaardigers soos Canon , Konica, Minolta, Nikon en Pentax.

Met die aanvang van digitale fotografie het vervaardigers van bestaande SLR film kameras die nuwe tegnologie elke keer vergelyk met die wel bekende ou 35mm formaat waaraan soveel amateur en professionele fotograwe reeds gewoond was, verder ook omdat bestaande SLR gebruikers aanvanklik die kamera vervaardigers se teiken mark was. Vandaar ook die afkorting DSLR (“digital single lens reflex”) ‘n term wat vandag algemeen gebruik word. ‘n Digitale sensor met fisiese afmeting van 36 x 24 mm word dus geag die ekwivalent te wees van die ou 35mm film formaat en staan dus daarom bekend as ‘n volraam sensor.

Waar kom kropsensors vandaan?

Die probleem is dat groot sensors baie duur is om te vervaardig, in sommige gevalle tot 20 keer meer as ‘n krop sensor, en moes kamera vervaardigers dus om die koste van ‘n digitale SLR kamera inlyn met die van ‘n film kamera te hou, die besluit neem om eerder kleiner sensors te ontwikkel aangesien ‘n kamera met ‘n sensor waarvan die area so groot soos ‘n standaard 35mm film raampie net te duur sou wees. Dit is dus ook natuurlik die rede waarom alle intree DSLR kameras vandag nog kropsensors gebruik.

Figuur Geleen by slr lounge

Om SLR gebruikers te kry om oor te skakel na DSLR kameras het kamera vervaardigers dit goed gedink om SLR gebruikers toe te laat om die SLR lense wat hul reeds het, ook op ‘n DSLR kamera romp te kan gebruik. Die fokus lengte van die SLR en DSLR kameras is dus dieselfde gehou. Die probleem is nou dat ‘n kleiner sensor slegs ‘n gedeelte van ‘n standaard 35mm beeld kan vaslê. Vir die gebruiker lyk dit dus of die beeld op sy film en die geneem deur ‘n digitale kamera met sy kleiner sensor ewe groot voorkom maar dat die digitale foto lyk of hy kleiner gesny is van bo, onder en aan die kante, vandaar die benaming krop sensor (“Crop sensor”). Krop sensors is dus alle sensors kleiner as ‘n volraam sensor. Daar is baie krop sensor formate waarvan die APS-C (“Advanced Photo System type-C “) formaat die bekendste is.

Ook hierdie formaat verskil tussen vervaardigers. Nikon se APS-C of DX sensors het ‘n kropfaktor van 1.5 terwyl Canon se APS-C sensors ‘n kropfaktor van 1.6 het. Net om sake effens verder deurmekaar te maak het Canon met sy 1D MK IV uitgekom met ‘n ander formaat naamlik APS-H met ‘n kropfaktor van 1.3. ‘n Sensor se krop faktor is die verhouding tussen die lengte van ‘n 35mm volraam foto en die van ‘n foto geneem deur die kropsensor. Vir Canon se APS-C sensor is dit dus 36mm/22.2mm = 1.62 of benaderd 1.6.

Voorbeelde van die meer algemene kropsensors tans op die mark.

Wanneer ‘n kropsensor foto vergroot word na 36 x 24mm lyk dit of die beeld groter is as die van die volraam sensor dit is een van die voordele maar ook nadele van ‘n krop sensor.

‘n Voordeel vir die natuurlewe en voël fotograwe omdat hul onderwerp of hul fotos heelwat groter vertoon. Om dieselfde beeld te kry moet die volraam sensor fotograaf ‘n lens met ‘n fokuslengte van 1.6 keer groter gebruik. In hierdie geval sou ek dus met my kropsensor kamera en ‘n 500mm lens die foto regs kon neem maar die volraam fotograaf sou ‘n 800mm lens moes gebruik.

Vir die landskap fotograaf miskien ‘n nadeel omdat ‘n kropsensor nou heelwat minder van die toneel vaslê as wat hy sou kon regkry met ‘n volraam sensor. (Sien onderste foto.)

Daar is vele artikels op die internet te vinde wat handel oor digitale sensors, sommige vertel jou in detail hoe hul vervaardig word, hoe hul funksioneer, sensor pixel grotes en werksverrigting en vele ander detail, meer oor die voor en nadele van beide sensors, soek dus gerus op die internet as jy meer tegniese detail sou verlang.

Vir die persone wat ‘n meer ingeligte besluit wil maak tussen sensors, maar nie te veel in die detail wil verval nie, sou ek die volgende verwysings voorstel. Hulle hanteer ook die belangrikste voor en nadele van die verskillende sensor tipes.

  1. “Making sense of Sensors” deur Mark David. Die webverwysing vir hierdie artikel is http://www.mdavid.com.au/photography/sensors.shtml
    Jy kan ‘n PDF weergawe van die artikel hier aflaai.
  2. “APS-C versus Full Frame” deur Mark David. Die webverwysing vir hierdie artikel is http://www.mdavid.com.au/photography/apscversusfullframe.shtml
    Jy kan ‘n PDF weergawe van die artikel hier aflaai.
  3. “Cropped sensor vs full frame sensor tips in 2” deur Pye van SLR Lounge.com. Hierdie Youtube video se webverwysing is https://www.youtube.com/watch?v=l4_YokbwVNw
    Die artikel is ook beskikbaar by http://www.slrlounge.com/school/cropped-sensor-vs-full-frame-sensor-tips-in-2/

Die volgende vraag is natuurlik, maak die aantal pixels wat die sensor het saak en watter impak het dit op die keuse van ‘n kameraromp? Lees gerus die volgende twee artikels.

  1. “Pixel density in Camera Sensors” deur Mark David. Die webverwysing vir hierdie artikel is http://www.mdavid.com.au/photography/pixeldensity.shtml
    Jy kan ‘n PDF weergawe van die artikel hier aflaai.
  2. “Megapixels: How many is enough?” deur Mark David. Die webverwysing vir hierdie artikel is http://www.mdavid.com.au/photography/megapixels.shtml
    Jy kan ‘n PDF weergawe van die artikel hier aflaai.
  3. The Real Truth behind the Megapixel Myth in 2 Minutes” deur Pye van SLR Lounge.com. Hierdie Youtube video se webverwysing is https://www.youtube.com/watch?v=bVKveHZGnNY

Die artikel op Youtube wat die grootste indruk op my gemaak het en baie van die mittes soos …

  1. Dat fotos geneem deur kleiner sensors die sogenaamde “krop sensors”, meer geraas vertoon as een geneem deur ‘n volraam sensor
  2. Dat klein sensors het minder “bokeh”, d.w.s. die kleine sensor se diepte van veld is groter en kan dus nie daardie mooi sagte uitfokus agtergronde gee wat fotograwe so graag wil hê nie.
  3. Dat ‘n 500mm f4 lens se equivalent op ‘n APS-C sensor met sy 1.6x kropfaktor is ‘n 800mm f4 is.

… aanspreek is Tony Northrup se YOUTUBE video oor “Crop Factor with ISO & Aperture: How Sony, Olympus, Panasonic, Canon, Nikon & Fuji Cheat You”
https://www.youtube.com/watch?v=DtDotqLx6nA

Hierdie video verduidelik ook waarom so baie amateur fotograwe van brugkameras weg beweeg na DSLR kameras toe.

Ten Slotte vir my as natuurlewe en voël fotograaf is ‘n kropsensor kameraromp met bitter min geraas teen hoë ISO stellings, ‘n hoë sluitertempo (aantal raampies per sekonde) en ‘n goeie en vinnige outomatiese fokus stelsel, onontbeerlik. Dit is die rede waarom ek die Canon 1D MK IV en die nuwe Canon 7D MK II sou aanbeveel vir diegene wat nie R80000 of meer vir ‘n kamera romp kan betaal nie.

Vir landskap fotografie verkies ek om ‘n samestelling te maak uit meer as een foto wat effens oorvleuel en dan met sagteware soos Panorama Maker 6 aan mekaar te plak, eerder as om een foto te neem wat alles bevat. Vir my persoonlik voel ek dat daar te veel inligting verlore gaan wanneer ek die selfde landskap met ‘n wye hoeklens en ‘n volraam kamera afneem. Net my persoonlike voorkeur natuurlik. Ek dink volraam kameras kom veral tot hul reg by trou, portret en mode fotografie. Argitektoniese fotograwe geniet natuurlik ook hul volraam kameras ten volle veral as hul ‘n “tilt-shift” lens kan gebruik.

Laaste Bywerking: 2015/01/14

Flag Counter