GOEIE KONVOOI RY REËLS

Baie min 4x4 reisigers, selfs die wat al 'n formele 4x4 kursus bygewoon het, weet hoe om in 'n groep, klein of groot, veilig en georden saam te ry. Soos in enige geordende gemeenskap is daar reëls wat die dissipline in so 'n groep help vestig en sodoende die 4x4 groep sowel as die ander pad gebruikers se veiligheid probeer verseker.

Die basiese reëls dek alle groepe klein of groot met hier en daar 'n toegewing of 'n additionele reël of twee by vir volledigheid.



1. KONVOOI GROTES

Ek wil graag die 4x4 saamry groepe of konvooie in drie kategorië verdeel aangesien die reëls effens vir die verskillende groepe mag verskil.

  1. Klein Groepe: 'n Groepie vriende wat graag saam ry om die natuur te geniet en dit veiliger vind om saam met ander 4x4 voertuie, die meer afgeleë tweespoor paaie te verken. Hierdie groepe is selde groter as 2-4 voertuie. (Ons verkies hierdie kategorie want jy ken jou vriende se persoonlikhede en hul 4x4 vaardighede, en jy kan hul voor die tyd kies, wat dit op sy beurt vir die leier van die groep soveel makliker maak om die groep suksesvol te lei en veilig te hou.)




  2. Medium Grote Groepe: Hierdie is gewoonlik groepe of safaris wat deur 4x4 klubs of toeragentskappe gereël word. In meeste gevalle ken die insittendes van die onderskeie voertuie mekaar glad nie en ontmoet hul vir die eerste keer wanneer die groep bymekaar kom voor die toer begin. Die ideale grote van so 'n groep is tussen 5-12 voertuie. Uit 'n ekonomiese perspektief is hierdie groepe gewoonlik tussen 9 en 12 voertuie sterk. (Ons het al 'n paar keer in sulke groepe gery en met 'n ervare en goeie konfooileier wat veral ook oor baie goeie mense kennis beskik, kan dit baie lekker wees veral as jy van groter groepe vir geselskap hou. Soms is dit ook die enigste wyse om sekere dele soos die Namibiese Spergebied of die Namib woestyn te kan verken, aangesien jy saam met een van die konsessie houers in 'n georganiseerde groep te ry.




  3. Groot groepe: Hierdie groepe kan enigiets van 16-24 voertuie en selfs groter wees. Daar is net twee redes waarom 'n groep so groot sal wees en dit is as 'n 4x4 klub 'n dag of naweek uitstappie iewers reël waar klub lede mekaar van naderby beter kan leer ken of wanneer die toeragentskappe wat so 'n toer reël se geldgierigheid nie perke het nie. Met eersgenoemde kan ek nog saam leef want gewoonlik kom die groep een vir een bymekaar by 'n vooraf afgespreekte plek, waar die groep dan die dag of naweek saam deurbring en dan ook in die nabye omgewing af van die hoofweë as 'n groep die omgewing sal verken. Bly van groot groepe wat deur toeragentskappe gereël word weg. Dit is baie moeilik om sulke groot groepe met mense wat verskeie 4x4 vaardigheidsvlakke en persoonlikhede bevat, veilig te kan lei en 'n mens se geduld word soms tot die uiterste getoets wat dan ook tot gevaarlike situasies kan lei. (Ons het net slegte herinneringe aan geleenthede waar ons in sulke groot groepe was en vermy dit soos die pes. Maak nie saak hoe charismaties die toerleier is nie, jy kan net nie met sukses sulke groot groepe veilig en gelukkig hou nie, jou mede reisigers se persoonlikhede verskil net te veel van jou eie en daar is ook net te veel egos ter sprake na my sin.)






2. DIE STRUKTUUR VAN 'N KONVOOI

'n Konvooi bestaan altyd uit 'n Konvooileier en 'n Agterryer (“Sweeper” of “Tail-end Charlie” soos hul in die algemeen bekend staan) met die ander lede van die konvooi tussen in. In groter konvooie is daar ook 'n Konvooibeampte of Konfooi Assistant, wat gewoonlik in die middel van 'n konvooi ry en die skakel vorm tussen die Konvooileier en die Agterryer. Hierdie drie persone moet deurentyd in radio verbinding met mekaar wees en bly.


  2.1 DIE KONVOOI LEIER SE ROL EN VERANTWOORDELIKHEDE
  1. 'n Konvooileier moet bevoeg wees om 'n konvooi te kan lei, meer as genoegsame ondervinding in 4x4 ry hê en 'n baie goeie werkende kennis en ervaring van die herwinning van voertuie besit.
  2. Dit is sy plig om die roete wat gery moet word goed te ken. In baie gevalle is hy ook die persoon wat die roete aanvanklik uitgewerk het. Die nodige stoppe langs die pad te beplan en hom van die gevare op die roete te vergewis.
  3. Die Konvooileier is die persoon wat verantwoordelik is vir almal se veiligheid in die konvooi asook vir enige herwinnings pogings. Hy is die persoon wat al die besluite ten opsigte van die konvooi neem en die finale sê het in sake.
  4. Hy moet radio kommunikasie met die Agterryer verseker, of direk of deur middel van 'n Konfooibeampte in die middel van die konvooi.


  2.2 KONFOOIBEAMPTE SE ROL EN VERANTWOORDELIKHEDE
  1. Sy taak is hoofsaaklik om te verseker dat as iets sou gebeur en die konvooi raak verdeel, dat die agterste deel van die konvooi weer by die voorste deel uitkom.
  2. Soms is dit beter om 'n lang konvooi eerder op te breek in twee groepe veral as die verkeer baie besig is of die konvooi moet deur 'n stedelike deelbeweeg waar verkeersligte die groep maklik kan verdeel as dit te lank is, met die gevolg dat die agterste groep dan kan verdwaal.
  3. Wanneer moeilike hindernisse gery moet word kan die Konvooibeampte by die Konvooileier oorneem wat die eerste deel van die konvooi deur die hindernis gehelp het en sodoende die Konvooileier die kans gee om weer voor by die konvooi te kom terwyl die Konvooibeampte die res van die konvooi deur die hindernis help.
  4. Herlei boodskappe per radio tussen die Konvooileier en die Agterryer en anders om indien nodig.
  5. Bogenoemde beteken dat die Konvooibeampte net soos die Konvooileier 'n bevare 4x4 ryer en herwinnings deskundige moet wees.


  2.3 DIE AGTERRYER SE ROL EN VERANTWOORDELIKHEDE
  1. Hy is verantwoordelik dat al die voertuie veilg by die eind bestemming aankom.
  2. Hy moet hulp verleen as 'n voertuig in die konvooi langs die pad probleme ondervind.
  3. Hy moet die konvooileier per radio op hoogte hou van die vordering van die agterste deel van die konvooi.



3. DIE MINIMUM VEREISTES WAARAAN JY EN JOU VOERTUIG MOET VOLDOEN VOORDAT JY DIT KAN OORWEEG OM SAAM MET ANDER 4x4 VOERTUIE IN 'N KONVOOI TE RY.

  1. Enige persoon wat in 'n konvooi wil ry MOET in besit wees van 'n wettige rybewys, en dié moet aan sy persoon wees of ten minste byderhand in die voertuig wees as hy of sy bestuur.
  2. Die voertuig waarmee jy gaan ry moet ten volle padwaardig wees en ook in 'n puik meganiese toestand wees. Indien jou voertuig onklaar sou raak, hou jy die hele konvooi op en dit is nie regverdig teenoor die ander persone wat wel voorsorg gemaak het nie en graag die reis wil geniet en soveel as moontlik daaruit wil put.
  3. Sorg dat jou voertuig minstens twee herwinningspunte voor en twee agter aan die voertuig het waar aan jou voertuig herwin kan word sonder enige skade aan die voertuig self. Hierdie herwinningspunte moet aan die onderstel van die voertuig vas wees en nie aan jou voertuig se standaard voor en agter buffer nie. Baie 4x4 ryers vervang die standaard voorste en agterste buffers met swaardiens staal buffers waaraan herwinningspunte reeds aangebrings en wat vir sterkte getoets is.
  4. Indien daar roetes gery gaan word waar herwinning moontlik nodig mag wees, behoort elkeen sy eie herwinnings toerusting te hê. Indien jy iemand anders se toerusting soos 'n kinetieseband benodig, bewys jou dankbaarheid deur te onderneem om die item van die persoon wat dit vir jou aanbied te koop. Kom sommer daar en dan oor die prys ooreen voordat die herwinnings poging begin.
  5. Elke voertuig behoort ook sy eie volledige noodhulp tas te hê.
  6. Maak seker jou voertuig se spaarwiel is in goeie toestand en dat dit op druk is. Moet nie jou voertuig se domkrag en 'n staalplaat of stewige houtblok (250mm x 250mm x 38mm dik) vergeet waarop jy die domkrag kan staan maak en sodoende verseker dat die gewig van die voertuig nie die domkrag in die sand of sagte grond weg druk nie. (Onthou jy wil die voertuig oplig.)
  7. Maak ook seker dat jy 'n bandherstelstel saam neem waarmee jy 'n band wat 'n spyker of iets soortgelyks langs die pad opgetel het en dan begin wind verloor, te kan reg maak langs die pad.
  8. Om die waarheid te sê my persoonlike vereiste, sou ek 'n groep lei, is dat niemand saam ry as hy nie twee spaarwiele, wat in 'n goeie toestand is, op die voertuig het nie, veral as jy weet dat die groep van die gebaande weë gaan afdwaal. Hierdie reël vir my, is ononderhandelbaar, want as jy 'n band verloor in moeilike terrein raak die persoon wat bestuur angstig omdat hy bekommerd is oor wat sal gebeur as hy weer 'n band sou verloor en sodoende is sy aandag nie by dit wat hy doen nie en kan ongelukke baie maklik gebeur. Die persoon wil dan ook nie die moeiliker dele ry nie en voorkom sodoende dat hy en die anderlede in die groep nie die rit ten volle kan geniet nie.
  9. Jou voertuig behoort minstens een meerdoelige 1.5 Kg brandblusser saam te ry.
  10. Dit is ook belangrik om 'n 12V lugdrukpomp saam te ry waarmee jy jou voertuig se bande kan opblaas na 'n rit in die veld en voor jy weer op die hoofpad klim of na 'n herstel van 'n lek in 'n band.
  11. Jy sal natuurlik dan ook 'n los banddrukmeter benodig. Moet asseblief nooit op die een op jou lugkompressor staatmaak nie, hulle is gewoonlik baie onakkuraat en jou en jou familie se lewens is net te veel werd.



4. DIE BASIESE KONVOOI REëLS WAT VIR ALLE GROEPE GELD IS AS VOLG:

Baie min 4x4 reisigers wat vir die eerste keer in 'n groep saamry, het al deur 'n stel reël gelees wat die gedrag van die individuele voertuie in 'n konvooi reël, deurgelees voordat hul by so 'n groep aansluit. Gewoonlik is almal baie opgewonde aan die begin van 'n rit en na die groetery word daar dan ook gewoonlik dadelik in die pad geval, almal weet mos wat om te doen. Net hier begin dinge verkeerd loop en lê die ongeluk en wag. Kom ons begin reg deur saam na goeie konvooi reëls te kyk. Dit is ook die Konvooileier se plig om die belangrikste reëls aan die lede van die groep voor te hou.

BASIESE KONVOOI REELS

  1. Reël 1 - Sorg dat jou voertuig se brandstoftanks en indien jy Jerry kanne ook saam ry, almal vol is voordat jy na die bymekaar kom punt vertrek. Maak dus tyd daarvoor in jou beplanning sodat jy betyds kan aansluit by die groep.
  2. Reël 2 - Sorg dat jy ALTYD betyds is vir die afgesproke tyd wanneer die groep wil vertrek. Of sorg liefs dat jy so dertig minute voor die tyd by die groep aansluit. Niemand hou daarvan om te wag nie.
  3. Reël 3 - Indien iets voorgeval het wat tot gevolg het dat jy moontlik laat gaan wees, laat weet die Konvooileier vroegtydig en gee hom 'n eerlike aanduiding van hoe lank jy vertraag sal wees.
  4. Reël 4 - Meld altyd eers by die groep of konvooileier aan, voordat jy begin kuier sodat hy weet jy is daar. Vir middelslag en groot groepe is daar gewoonlik 'n teenwoordigheidslys waarop jy kan aanteken.
  5. Enige konvooileier wat sy sout werd is sal van hierdie eerste 30 minute voor die groep moet vertrek gebruik maak om die lede in die groep te leer ken en deur 'n paar vrae te vra vasstel wat die bestuurder se vorige 4x4 ondervinding en vaardigheids vlak is. In so 'n kort tyd is dit ontmoontlik om presies te weet wat gaan vir wat, maar die konvooileier kan darem 'n idee vorm van sy groep se basiese bevoegdhede.
  6. Reël 5 - Daar is net een konvooileier en hy neem al die besluite ten opsigte van die konvooi en bly verantwoordelik vir almal se veiligheid in die konvooi asook vir enige herwinnings pogings.
  7. Reël 6 - Geen konvooi behoort vir die eerstekeer te vertrek sonder 'n kort bymekaar kom sessie waar die konvooi reëls wat sal geld nejies uitgespel word nie. Die bestuurders moet hierdie bymekaar kom onder geen omstandighede mis nie!!
  8. Reël 7 - Daagliks voor die vertrek van 'n konfooi moet die konvooileier almal inlig waarheen die konvooi die dag op pad is, watter roete gevolg sal word, wanneer en waar gestop sal word langs die roete, wat die dag se gevare mag wees en natuurlik watter besienswaardighede daar langs die roete wat gery sal word te siene sal wees. Hy moet ook seker maak dat almal se voertuie gereed en padwaardig is vir die dag se roete. Jy bly natuurlik self verantwoordelik vir jou voertuig se meganiese wel en weë.
  9. Reël 8 - Elke oggend of middag as die konvooi 'n nuwe skof begin moet die Konvooileier die werking van die radios tussen die Konvooileier en die onderskeie konvooilede afsonderlk en daarna die hele groep gesamentlik toets.
  10. Reël 8 - Die konvooi leier sal die spoed van die konvooi bepaal en van tyd tot tyd wysig soos hy dit goed vind.
  11. Reël 9 – Baie belangrik, jou spoed in die konvooi word ongelukkig altyd bepaal deur die voertuig agter jou en NIE deur die voertuig voor jou nie. (Die volgende reël verduidelik waarom.)
  12. Reël 10 - Jy is verantwoordelik vir die wel en weë van die voertuig direk agter jou in die konvooi. Jy moet dus gereeld in jou truspieel kyk of hy jou nog volg. Indien hy sou agter raak moet jy ook jou spoed verminder, die voertuig voor jou sal dieselfde doen as hy die reëls volg en so sal dit deur werk tot voor by die konvooileier wat dan sal besef dat die algemene spoed van die konvooi dalk net te vinnig is vir al die voertuie in die groep.
  13. Dit is dus ook belangrik dat jy nie onnodig die konvooi sal ophou deur te rustig te raak en dan onnodiglik stadig te ry nie. Ry so vinnig as wat jy voel vir jou voertuig veilig is maar poog darem om by die konvooi voor jou te hou.
  14. Reël 11 – Indien jy nie 'n radio in jou voertuig het nie en jy dringend uit nood moet stop (meganiese probleme ondervind of so iets) flikker jou hoofligte 'n paar keer vir die voertuig voor jou. As hy wakker is en jou ligte sien moet hy dieselfde doen met die voertuig voor hom. Jou teken sal dan deur die konvooi werk tot by die Konvooileier wat onmiddelik die konvooi op 'n veilige plak sal laat aftrek en stop. Moet dus nie jou hoofligte flikker as jy nie die konvooi wil laat stop nie.
  15. Reël 12 - Indien die persoon agter jou wegraak, moet jy op 'n veilige plek stop en wag totdat hy jou weer opgevang het. Jy moet onder geen omstandighede agter die voertuig voor jou aan bly ry nie. Indien die voertuig agter jou probleme ondervind sal die voertuig agter hom dadelik begin stadiger ry maar nie stop nie. Slegs die Agterryer sal stop en 'n handjie bysit indien hy nie kan help nie sal hy die Konvooileier laat weet en die hele konvooi sal dan op 'n veilige plek waar al die voertuie veilig kan aftrek stop en wag totdat die Konfooileier weer die voortou neem. Die Konvooileier sal dan na agter beweeg en 'n handjie bysit.
  16. Reel 13 - Gewoonlik plaas die konfooi leier die stadigste voertuig voor in die konvooi, gevolg deur diegene wat voel dat hul nie genoegsame ondervinding of ervaring het om self te lei nie. Op roetes waar herwinning gereeld mag voorkom sal die Konvooileier verkies dat die persoon net agter hom die regte voertuig ry en ook goeie herwinnings ondervinding het wat dan sal kan help om hom te herwin sou dit nodig wees.
  17. Reël 14 - Maak altyd seker jy weet wie ry voor jou en wie ry agter jou. ('n goeie manier om gou vriende te maak.) Behou die volgorde van die konvooi , verkieslik vir die volle duur van die reis. Dit help die Konvooileier om te bepaal waar in die konvooi daar 'n probleem is sou jy laat weet het dat jy of die voertuig voor of later jou probleme sou ondervind.
  18. Reël 15 - Moet onder geen omstandighede die voertuig voor jou verby steek nie, of na 'n kort stop voor hom insny of indruk nie. Hou jou posisie in die konvooi tensy die konvooileier jou versoek om die volgorde te verander.
  19. Reël 16 - Afstand tussen voertuie in die konvooi. Daar is geen vasgestelde afstand wat jy moet hou nie. Die afstand word bepaal deur die spoed wat die konvooi ry, die toestand van die pad en die siglyn wat onder omstandighede geld. Op hoofweë kan die afstand redelik groot gehou word so 100m of selfs meer om sodoende vinniger voertuie wat nie deel vorm van die konvooi nie, die kans te gee om veilig te kan verby gaan. Bly ten alle tye in jou posisie in die konvooi, moet nie die voertuig voor jou verbysteek as hy te stadig na jou sin ry nie.
  20. Reël 17 – Dit is baie maklik om die korrekte padreëls te onthou terwyl die baie belangrike “konvooi reëls” en sterk drang “om nie die konvooi voor jou te verloor nie” oorheersend raak. Dit het ook die gevolg dat voertuie die spoedgrens kan oorskry of te na aan die voertuig voor hom begin ry. Beide hierdie drange moet ten alle koste oorkom word anders gaan dinge een of ander tyd skeef loop.
  21. Reël 18 - Wanneer die konvooi afdraai is dit die plig van die persoon voor jou om met sy flikkerlig aan te toon dat die konvooi gaan draai en indien die voertuig agter jou te ver teruggeval het moet jy vir hom wag met jou flikkerligte aan totdat hy kan sien dat die konvooi hier moet draai. Jy sal weet hy het gesien wanneer hy sy flikkerligte aansit om te kan draai. Dit sal verseker dat die res van die konvooi nie verdwaal nie. Reël 10 sal sorg dat die konvooi nie vir jou weg ry nie.
  22. Reël 19 - Wanneer die konvooi deur moeilike terrein beweeg, maak seker dat die voertuig voor jou die hindernis voltooi het voordat jy ook die hindernis aanpak. Soms kan 'n voertuig nie die hindernis die eerste keer suksesvol voltooi nie en moet hy dalk terug stoot om weer te kan probeer, wat dus 'n probleem kan wees as die res van die konvooi reeds tot op sy hakke nader beweeg het en daar dus geen ruimte vir hom is om terug te beweeg en dan weer te kan probeer nie.
  23. Reël 20 - Wanneer 'n voertuig 'n hindernis voltooi het en die voertuig agter hom kan hom nie behoorlik sien nie moet die voertuig wat so pas die hindernis voltooi het die voertuig agter hom per radio laat weet dat die pad skoon is en dat hy nou maar die hindernis mag nader.
  24. Reël 21 - Dit is goeie praktyk indien alle voertuie met radios toegerus is om die voertuig agter jou te waarsku van voertuie wat van voor kom of die voertuig voor jou te waarsku as 'n voertuig van agter wil verbysteek veral as dit baie stowwerig is en die sig nie van die beste is nie.
  25. Reël 22 - Alle voertuie sal by die beplande stoppe langs die roete hou en nie van die geleentheid gebruik maak om gou weg te glip om iets anders te gaan doen nie.
  26. Reël 23 - Ry ten alle tye in die spoor van die voertuig voor jou tensy dit duidelik is dat die spoor onbegaanbaar is en jy 'n alternatiewe roete moet volg.
  27. Reël 24 - Moet geen sigaretstompies by die venster uit gooi nie want dit kan 'n erenstige veldbrand tot gevolg hê.
  28. Reël 25 - Sitplek gordels moet ten alle tye gedra word BEHALWE wanneer jy deur diep water moet ry.
  29. Reël 26 - Wanneer jy deur diep water (kniehoogte en hoër) moet ry, maak seker jou en jou passasiers se veiligheidsgordels is los en jou voertuig se vensters is oop. Veral voertuie met elektries beheerde vensters. Hierdie maatreëls sal verseker dat almal die voertuig vinnig en veilig sal kan verlaat as iets verkeerd loop of die stroom die voertuig sou wegvoer.
  30. Reël 27 - Hou by alle padreëls en padtekens en bly by die spoedgrense veral in klein dorpies of in die nabyheid van informele nedersettings. As jy afgetrek word moet die hele konvooi stop en vir jou wag.
  31. Reël 28 - Dit is goed om met jou voertuig se ligte aan te ry in die konvooi. Dit vergemaklik die taak van die persoon voor en agter jou om jou in die oog te kan hou veral in digte stof, reën of swak lig.
  32. Reël 29 - Wanneer die konvooi deur 'n gebied of plaas ry met hekke, moet die tweede voertuig in die konvooi die hek oop maak en by die hek bly totdat die hele konvooi verby is en dan net voor die Agterryer weer in die konvooi inval. Dit sal verseker dat daar nie 'n misverstand ontstaan of die hek oop of toe moet wees nie en dus sal verseker dat die hek wel toe is wanneer die konvooi weer aan beweeg. Indien die konvooi kort is mag die konvooileier oor die radio versoek dat die Agterryer eerder die hek toemaak en dan hoef die tweede voertuig nie die konvooi te verlaat nie.
  33. Reël 30 - Indien 'n voertuig die konvooi wil verlaat, moet hy die ander voertuie met die hand verby waai of beduie en dan wanneer die Agterryer hom bereik sy versoek aan hom bekend maak en die nodige reëlings tref. Die Agterryer sal die Konvooileier laat weet.
  34. Reël 31 - Wanneer 'n voertuig weer by die konvooi wil aansluit moet hy die Agterryer van sy intensies verwittig en dan sy ou posisie weer in die konvooi inneem en wanneer in plek, die Konvooileier daarvan in kennis stel.
  35. Reël 32 - Geen alkohol of dwelm gebruik mag plaasvind voor of tydens 'n reis waar voertuie in 'n konvooi moet beweeg nie. Waneer die dag se ry verby is mag die manne kuier as hul wil.
  36. Reël 33 - Wanneer die konvooi leier 'n algemene vraag aan die konvooi lede vra, soos hoe lyk elkeen se brandstof vlakke of, is 'n toilet stop nodig, dan antwoord die konvooilede van voor tot agter, die een na die ander, dit wil sê terugvoer aan die Konvooileier oor die radio begin by die nommer twee voertuig, gevolg deur nommer drie en dan vier tot aan die einde van die konvooi. Wanneer die Konvooileier van die Agterryer hoor weet hy dan almal het gehoor en geantwoord.
  37. Reël 34 - Enige verskille of geskille tussen bestuurders sal deur die Konvooileier besleg word en sy besluit of aanbeveling sal finaal wees.

Al hierdie reëls mag dalk oorweldigend wees vir nuwe 4x4 reisigers wat vir die eerste keer in 'n konvooi ry maar dit raak gou deel van die roetine en is baie belangrik om 'n konvooi seepglad te laat verloop en almal se veiligheid te verseker.



5. KONVOOI PROSDURE EN REëLS IN MEER KOMPLEKSE SITUASIES


  5.1 SNELWEë
  1. Reël 35 – Tol Hekke : Sommige gebruik "E-Tags", ander kredietkaarte en sommige verkies kontant. Ongeag hoe jy by 'n tolhek betaal, ry altyd stadig deur die tolhek en parkeer agter die Konvooileier wat op die soom van die pad sal staan, met jou noodligte aan. Bly altyd in die voertuig. Wag totdat die laaste voertuig deur is en wanneer die Agterryer die teken gee kan die konvooi weer vertrek.
  2. Reël 36 – Wanneer die konvooi op 'n oop snelweg op pad is laat toe dat vinniger verkeer verby kom en tussen jou en die voertuig voor jou tydelik in beweeg, moet asseblief onder geen omstandighede die gaping probeer toe maak as die voertuig agter jou probeer verby kom nie, jy kan die bestuurder en sy passesiers se lewens onnodiglik ingevaar stel daardeur.
  3. Reël 37 - Onthou dat op snelweë volg afstande verleng kan word na 100m plus tussen voertuie om vir die spoed waarteen die konvooi beweeg en die verbygaande mede padgebruikers 'n beter kans te gee om te kan verby steek.

  5.2 STADSVERKEER
  1. Reël 38 - Wanneer die konvooi 'n stad se grense nader en die spoed verminder na die minimum soos voorgeskryf deur die spoedbordjies moet die konvooi lede die gaping tussen voertuie verminder en met die hulp van die voorste passasier die voertuig voor jou goed dop hou.
  2. Reël 39 - Gebruik flikkerligte om die konvooi lid agter jou daarop attent te maak as die konvooi voor jou gaan draai.
  3. Reël 40 - Op stedelike snelweë of dubbelpaaie sal die konvooileier gewoonlik in die regterbaan hou met die konvooi agter hom. Sou 'n vinniger voertuig die konvooi wil verby steek, sal die Agterryer die Konvooileier vroegtydig daarvan per radio in kennis stel waarna die Konvooileier met sy fliker lig aan die konvooi na die linkerbaan laat oorbeweeg, sodat die vinniger voertuig kan verby steek. Die Agterryer sal sy posisie in die regterbaan behou en sodra die verbystekende voertuig by die konvooileier verby is sal hy met sy flikkerlig aan die konvooi weer na die regterbaan laat terug keer.
  4. Reël 41 - By verkeersligte gebruik meer as een baan indien beskikbaar, om sodoende meer konvooilede die geleentheid te gee om die verkeersligte oor te steek. Val dan vereers terug in enige posisie in die konvooi solank dit net AGTER nie konvooileier is. Sodra die konvooi dan weer aftrek om te hergroepeer, val dan weer in jou ou posisie in in die konvooi.

  5.3 WANNEER HINDERNISSE AANGEPAK WORD
  1. Onthou Reël 17 - Wanneer die konvooi deur moeilike terrein beweeg, maak seker dat die voertuig voor jou die hindernis voltooi het voordat jy ook die hindernis aanpak. Soms kan 'n voertuig nie die hindernis die eerste keer suksesvol voltooi nie en moet hy dalk terug stoot om weer te kan probeer wat dus 'n probleem kan wees as die res van die konvooi reeds tot op sy hake nader beweeg het en daar dus geen ruimte vir hom is om terug te beweeg en dan weer te kan probeer nie.
  2. Onthou Reël 18 - Wanneer 'n voertuig 'n hindernis voltooi het en die voertuig agter hom kan hom nie behoorlik sien nie moet die voertuig wat so pas die hindernis voltooi het die voertuig agter hom per radio laat weet dat die pad skoon is en dat hy nou maar mag nader.
  3. Reël 42 - Indien daar enige gevare in 'n hindernis voorkom wat ander bestuurders dalk onkant kan vang, is dit jou plig om hom te waarsku, of per radio of deur uit te klim en hom daarvan in te lig. (Onthou as sy voertuig beskadig is, ry jy ook nie verder nie.)


  5.4 HERWINNINGS OPERASIES
  1. Onthou Reël 5 – Die Konvooileier en slegs die Konvooleier is verantwoordelik vir almal se veiligheid in die konvooi asook vir enige herwinnings pogings wat mag plaasvind.
  2. Reël 43 – Indien die Konvooileier nie self die herwinning kan hanteer nie mag hy 'n ander persoon met genoegsame ondervinding vra om die herwinning te hanteer. Hierdie persoon en hierdie persoon alleen neem dan die verantwoordelikhied vir daardie herwinnings operasie oor.
  3. Reël 44 - Indien 'n ander voertuig as die Konvooileier se voertuig gebruik word om 'n voertuig te herwin wat vas sit, word die bestuurder van die herwinnings voertuig tydelik die verantwoordelike persoon vir die herwinning wanneer die Konvooileier die funksie na hom deligeer.
  4. Reël 45 - Alle omstanders en mede konvooilede moet minstens een en 'n half keer die herwinningskabel se lengte in alle rigtings van die toneel weg staan tydens 'n herwinnings operasie.
  5. Reël 46 - Indien jou voertuig geen herwinningspunte het nie is dit jou verantwoordelikheid om die wenas of herwinningsstrop aan jou voertuig te bevestig sodat indien daar skade aan jou voertuig kom daar niemand anders as jy self is om te blameer nie.
  6. Reël 47 – Voor die herwinning begin, moet die Konvooileier of die persoon wat die herwinning gaan doen, indien dit nie die Konvooileier is nie, die herwinningsprosedure met die eienaar van die voertuig wat herwin gaan word bespreek. Spreek af watter tekens gebruik sal word, watter rat gebruik moet word en die roete wat gevolg moet word. Indien die voertuig wat herwin moet word se eienaar instem tot die prosedure kan die herwinning begin.
  7. Reël 48 - Maak seker dat die herwinnings voertuig swaar genoeg is en stewig genoeg is om die herwinning te kan doen. Jy kan nie 'n 4 ton Cruiser met 'n Mini herwin nie.

  5.5 RADIO KOMMUNIKASIE
  1. Reël 49 - Dit is die plig van die Konvooileier om al die voertuie in die konvooi in te lig oor watter radio frekwensie gebruik sal word.
  2. Reël 50 - Toets die werking van die radios tussen die Konvooileier en die konvooi lede afsonderlk en gesamentlik.
  3. Reël 51 - Bestuurders behoort onder geen omstandighede die radio te gebruik terwyl hul bestuur nie. Slegs passasiers moet die radio antwoord. Deligeer hierdie taak aan iemand wat weet hoe die radio werk en liefs nie aan iemand wat bang is om die radio te gebruik nie.
  4. Reël 52 - Informele maar goeie radio prosedures moet ten alle tye gebruik word. Geen vloekwoorde, onder die belt grappies of geskille word oor die radios toegelaat nie. Onthou almal luister in. Die hoof rede vir die radios is vir goeie en veilige bestuur van die konvooi. Die radios mag gebruik word om interresante inligting met mede konvooi lede te deel.
  5. Reël 53 - Indien daar voertuie sonder radios in die konvooi is moet hul tussen die voertuie met radios ingedeel word.


Laaste Bywerking: 2015/05/18

Flag Counter