GOEIE 4x4 RY ETIKET



1. WAT IS ETIKET?

Etiket is maar net goeie maniere, gewoontes, reëls en soms seremonies wat deur tyd gevestig word en dan deur konvensie aanvaar word deur 'n gemeenskap of 'n groep, as daardie dinge wat goeie sosiale verhoudinge onderling reël en tot gevolg het.

Daar is gewoonlik geen wette wat goeie etiket, en in ons geval 4x4 etiket, as sulks aanspreek of af forseer nie. 4x4 etiket is gewoon bedagsaamheid en goeie maniere wat mense graag uitleef om mede reisigers se gemak, veiligheid en genot te verseker. Daar is dus geen 4x4 etiket polisie wat uit die bos sal spring om jou te beboet sou jy dalk 'n oortreding begaan nie, of alternatiewelik jou op die skouer sal klop om jou te bedank vir die goeie daad wat jy so pas gedoen het nie. Jou bedagsaamheid, konsiderasie en vriendelikheid word gewoonlik beloon deur die goeie vriende wat jy in die proses ryker word.


2. WAT WORD AS GOEIE 4x4 ETIKET BESKOU?


  2.1 ONS SOSIALE INTERAKSIE
  1. WEDERSYDSE RESPEK – Begin deur die mense in jou 4x4 groep en dan ook almal rondom jou, ja, selfs hulle daar by daardie moeilike grenspos, te respekteer en met vriendelikheid te behandel. Die gesegde; “Doen aan ander soos jy wil hê hulle aan jou moet doen.” kom by my op. Alternatiewelik : "Moenie iets aan ander mense doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie."

  2. BIED HULP AAN – Wanneer jy iemand langs die pad teekom wat moeilikheid of teespoed ondervind, bied jou hulp aan, moet nie net verby jaag nie. Môre kan dit jy wees wat daar gestrand is.

  3. RESPEKTEER DIE LOKALE INWONERS EN HUL TRADISIES – Respekteer die inwoners en hul tradisies van die gebied waarin jy kuier. Byvoorbeeld, indien hulle nie daarvan hou dat jy fotos van hul neem nie, moet dan nie fotos neem nie.

  4. LANDSWETTE - Respekteer en kom alle landswette en reëls van die omgewing waarin jy ry na.

  5. SELFSUG of EIE BELANG – Daar is werklik nie ruimte vir selfsug of eiebelang in die veld of tussen lede van die 4x4 gemeenskap nie. Die Boesmans of liefs die San mense van die Kalahari is 'n goeie voorbeeld daarvan, niks behoort aan net een persoon nie en alles word onder mekaar gedeel. As een honger is is almal honger. As een kos vind word dit onder almal verdeel ongeag hoeveel daar is. Die grootste probleem in ons samelewing vandag (of ons nou op snelweë of grond paaie ry, of in 'n kampterrein saam kuier of selfs in 'n winkeltou staan) is waarskynlik die feit dat ons mense vandag baie ongeduldig, onbehulpsaam en onnadenkend geword het. “Elkeen vir homself”. Ek wil voorstel dat voor jy reageer of iets doen, jy vinnig sal nadink oor hoe dit wat jy nou gaan sê of doen die mense om jou gaan beinvloed? Probeer om altyd eerder 'n positiewe bydra te maak en laat net goeie herinneringe agter.

  6. ONDERSTEUN LOKALE HANDEL – Deur van jou geld by lokale handelaars en oornag plekke te spandeer, sal jy ook verseker dat hulle jou en ander toeriste in 'n ander lig sal sien en behandel.

  7. DRANK GEBRUIK – Geniet jou drank maar maak seker dat indien jy te veel gedrink het jy nie vir ander 'n iritasie raak nie. Wees 'n voorbeeldige MAN of VROU en gaan slaap rustig. Dit is jou plig om jou vriend te help as jy dink dinge gaan nou te vêr, dit is nie nodig dat ander omstanders die prys vir sy oordadigheid moet betaal nie.


  2.2 OP DIE PAD
  1. PADREëLS – Hou ten alle tye by die padreëls van die land waarin jy reis. Hou stil as jy moet stilhou en moet onder geen omstandighede verby steek by sperstrepe nie, ander soos jy en ek maak staat daarop.

  2. OPSKIET KLIPPE - Wanneer 'n voertuig jou van voor nader op 'n grondpad verminder effens spoed totdat hy by jou verby is. Dit help dat klippe nie opskiet en enige van sy voertuig se vensters beskadig nie. Die spreekwoord verduidelik dit nogal goed; “Hy is so haastig dat hy ry dat die klippe so spat.”

  3. VERBYSTEEK OP NOU BERGPASSE - Wanneer jy teen 'n styl twee spoor berg af beweeg, gee die man wat opkom voorrang. Dit is baie makliker vir die een wat af gaan om sy voertuig weer aan die rol te kry as vir die persoon wat teen 'n styl opdraande moes stop en weer moet wegtrek.

  4. VERBYSTEEK OP 2 SPOOR PAD – Gee altyd die voertuig met die kleinste grond vryhoogte kans om die 2 spoor te benut terwyl jy met jou groot 4x4 op 'n veilige plek in die veld aftrek en wag dat hy verby kom. Die kanse dat jy met jou 4x4 gaan vassit of skade aan jou voertuig sal opdoen is skraler as syne.

  5. VERBYSTEEK OP GRONDPAAIE – Wanneer jy besluit om die voertuig voor jou verby te steek op 'n grondpad, maak seker die pad voor jou is veilig met geen aankomende verkeer nie. Gaan dan die voertuig voor jou verby en indien veilig hou vir 'n kort rukkie aan die regterkant sodat die voertuig wat jy so pas verby gesteek het nie direk in jou stof hoef te ry nie. Dit voorkom ook dat enige klippe wat opskiet nie sy voorruit sal beskadig nie.

  6. WANNEER JY STOP LANGS DIE PAD - As jy iets interressants langs die pad sien, moenie die hele pad vol parkeer nie, stop aan die kant van die pad en gee ander kans om veilig verby te kom indien nodig.

  7. PLAASHEKKE – Laat plaashekke soos jy dit gekry het, d.w.s. as hy toe was maak jy hom weer toe. As hy oop was laat hom oop staan tensy daar instruksies is wat vra dat jy die hek moet toe maak.



  2.3 WANNEER JY KAMP
  1. BRANDHOUT – Neem jou vuurmaak hout saam met jou in natuurbewarings gebiede in. Moet dus nie bome afkap of dooie houtstompe in die natuur optel of kamp toe sleep nie. Hierdie items vorm deel van die gebied se ekologie.

  2. VURE – Moet nooit enige vure onbewaak laat nie. Begrawe altyd gloeiende of uitgebrande kole en laat geen teken van jou boskamp agter nie.

  3. STILTE – Ons gaan na die bos om die mooi en die klanke van bos te ervaar. Daarom geen musiek sonder oorfone nie, en geen gesprekke harder as gewone gesels trant nie.

  4. SLAAPTYD – Dit word algemeen aanvaar dat kamp terreine teen 10h00 die aand stil word vir diegene wat graag vroeg wil inkruip en dat die stilte sal heers tot die volgende oggend 06h00. Vermy dus gedurende stilte tyd enige geraas soos die laai van voertuie, toe klap van deure of selfs die toemaak van ammo-kratte. Die knippe klap soos kanonskote so vroeg in die oggend.

  5. GEBRUIK VAN KRAGOPWEKKERS – Skakel altyd jou kragopwekker voor son onder af. Die beste is natuurlik as jy hom glad nie aanskakel of saam bring nie.

  6. VULLIS - Neem altyd al jou afval weer uit en saam met jou en raak daarvan ontslae op 'n wettige wyse buite die park of natuurbewarings area. Die reël is dus as jy dit aangery het, ry dit dan ook weer weg. Los die plek sover moontlik soos jy hom gekry het of selfs nog beter.

  7. BOS TOILET ETIKET - Begrawe jou nommer twee en brand alle toilet papier. Maak seker dat die vlamme geblus is voordat jy loop.


  2.4 DIE EKOLOGIE
  1. VOER VAN DIERE - Moet asseblief nie diere of voëls voer nie.

  2. PLASTIEK EN BLIKKE – Moet asseblief nie jou leë blikke en plastiek bottels en houers in die kampvuur gooi en dit daar laat vir die volgende persoon nie. Neem dit saam en gooi dit weg op 'n vulishoop of in 'n asblik.

  3. BEGRAWE VAN AFVAL – Moet ook nie jou afval begrawe nie. Diere soos hiëna het goeie reuk sintuie en hulle sal jou afval uitgrawe en orals rondstrooi. Neem dit saam.

  4. GEEN NUWE SPORE NIE – Ry altyd in bestaande spore en moet nie nuwe spore trap nie.

  5. GEBRUIK LAEBESTEK 4x4 – Daar is niks te bewys deur 'n hindernis in 2WD aan te pak nie, aangesien jy heel waarskynlik die omgewing gaan beskadig, gronderosie veroorsaak en moontlik ook 'n sensitiewe ekosisteem beskadig. Jy het baie betaal vir jou voertuig se lae bestek vermoë waarom dit nie gebruik nie.

  6. AFBLAAS VAN BANDE – Sagter bande verbeter nie net die 4x4 vermoë van jou voertuig nie maar dit verbeter ook die rygerief en verminder ook die impak op die omgewing. Dit voorkom ook dat jy vassit as jy op sand ry. Blaas jou voertuig se bande af VOOR jy vassit!

  7. BAND KARKASSE - Indien jy 'n band langs die pad verloor, neem asseblief die karkas saam en gooi die karkas weg op 'n geskikte stortings terrein of by die huis.

Ek is seker dat die meeste van wat ek hierbo gesê het is algemene kennis en die meeste van ons doen dit outomaties sonder dat ons eers daaraan dink, net uit beleeftheid en oordentlikheid, beide natuurlik, tekens van 'n goeie inbors en opvoeding.

Laaste Bywerking: 2015/05/02

Flag Counter