ONS VOERTUIE (HEDE EN VERLEDE)

Deur die jare het ons verskeie lesse geleer ten opsigte van die keuse van die regte 4x4 voertuig. Aanvanklik was ons gedagte net om grondpaaie en soms 'n bietjie sanderige paaie gemaklik en veilig te kan ry. Daar was geen behoefte om enige vêr afgeleë paaie te ry nie. Die aanvanklike gedagte was om Suid Afrika en Namibië so bietjie te verken en in die proses van die hoofweë af te klim en die kleiner dorpies met hul unieke bekoring stoflangs te besoek.

Aan die einde van 2006 maak ons dus ons eerste keuse van 'n 4x4 wat ons gedink het aan al ons vereistes sou voldoen, naamlik 'n 2004 Nissan X-Trail 2. 5 4x4 SE petrol. 'n Wonderlike sagte SUV maar gou vind ons uit, te sag vir ons groter wordende reis aspirasies, soos ons op die harde manier moes uitvind tydens ons eerste besoek aan Botswana en sy pragtige ongerepte Nasionale Parke.

Ons tweede probeer slag was 'n 1994 Toyota Hilux 2.2 4x4 petrol dubbelkajuit. Wat 'n legende! Hy loop orals en sou jy dalk probleme kry langs die pad is parte orals beskikbaar in Suider Afrika (ja nog steeds).

Om meer krag en wringkrag te verkry het ons die 2.2 liter (4Y) met 'n 2.7 liter (2RZ-FE) vervang. Nadele: Swaar op brandstof (6.5-7 km/l), wind raserig en die standaard lugversorger was totaal ontoereikend. (“Warm vrouens is regtig nie 'n goeie resep vir 'n lekker toer nie.”)

Om bogenoemde nadele te besweer het ons die 2.2 / 2.7i liter petrol Hilux met 'n meer moderne 2008 Hilux 3.0 D4-D diesel 4x4 dubbelkajuit vervang. Wat 'n wonderlike voertuig. Hy het ons orals geneem en met 'n brandstof verbruik van 7.8-8.6 km/l en 'n lugversorger wat jou dubbele longontsteking kan gee, net 'n groot vreugde wanneer jy toer. Ongelukkig het ons spesifieke Hilux 'n probleem met sy diesel stelsel ontwikkel (uniek tot ons voertuig) wat Toyota nooit na wense kon regstel nie en wat 'n demper op die betroubaarheid van die voertuig in afgeleë plekke geplaas het.

Die onbetroubaarheid van ons spesifieke Hilux het daartoe gelei dat ons in 2011, Kaokoland aangedurf het met 'n standaard van die rak af Toyota Fortuner 3.0 D4-D diesel 4x4 wat McCarthy Gezina aan ons geleen het terwyl hulle besig was om die Hilux se probleem te identifiseer en 'n werkende oplossing daarvoor te vind. My opinie van die Fortuner is dat dit vir die persoon wat eerstens 'n netjiese gesins en stadsmotor wil hê en dan ook soms vir twee tot drie weke in die jaar 4x4 wil ry, dit werklik 'n goeie keuse sou wees. 'n Vol lengte dakrak is ongelukkig 'n vereiste. Ons het Van Zyls pas in Namibië met 'n glimlag afgegaan en die sanderige rivier beddings naby Purros en Sesfontein gemaklik gery.

Vir ons 2012 Oos Afrika toer het ons besluit dat gegewe die onbetroubaarheid van ons Hilux dit dalk die regte tyd sou wees om 'n Toyota Land Cruiser aan te skaf. Ons vind toe “Hermien” se 2004 Land Cruiser 4.2 liter diesel met 'n volledig toegeruste wooneenheid permanent gemonteer op die voertuig in Oos London via die internet.

Brandstof verbruik was glad nie so sleg nie, so 6.5-7.3 km/l. Die slegte “kort paaie” wat ons van tyd tot tyd geneem het, het aan ons bewys dat die keuse van 'n Land Cruiser die regte besluit was. Dit is een ding om 'n paar kilometer werklik slegte pad te moet ry met enige van die standaard 4x4 voertuie tans beskikbaar is, maar dit is 'n ander saak om sulke paaie 100 tot 200km aanmekaar te doen dag vir dag. Wat 'n ongelooflike toer voertuig vir twee persone, net stadig, maar wanneer jy in Afrika ry is daar nie plek vir spoed nie. Ons diesel donkie sal ons toervoertuig bly vir die nabye toekoms.

Aan die begin van 2013 verkoop ons die Hilux en skaf ek toe vir my 'n Toyota Land Cruiser 4.0 V6 enkelkajuit aan en laat hom ombou na 'n dubbelkajuit deur Meano en Seuns in Krugersdorp. Net die regte voertuig om die duine in Namibië te ry. Maar ongelukkig is ons brandstof verbruik weer terug by 5-6 km/l, duidelik nie 'n goeie voertuig vir daaglikse lang afstand pendel nie.

Laaste Bywerking: 2013/11/27

Flag Counter