DIE KAMERA TOERUSTING WAT EK TANS GEBRUIK

Deur die afgelope ses jaar het my fotografie belangstelling gegroei van die vaslê van mooi herinneringe soos ons getoer het tot 'n stokperdjie wat ek tans baie geniet.

Die volgende lesse het ek wel geleer en dit is belangrik om dit hier te noem. Goeie en duur kamera toerusting maak nie van jou 'n goeie fotograaf nie. Van die beste en die mooiste fotos wat ek nog gesien het is met baie basiese kameras en relatief goeie lense geneem. Die samestelling (“composition”), beligting en die regte model (mens, dier of voël) op die regte tyd het niks met jou toerusting te doen nie, dit word slegs deur die fotograaf se kunstigheid, kennis van sy toerusting en sy geduld bepaal en dan ook 'n klein bietjie geluk nodig. Wanneer al hierdie dinge in plek is, slegs dan maak goeie en duur toerusting die verskil tussen 'n baie goeie foto en 'n uitstekende foto. Maar sonder die eerste bly dit net 'n doodgewone oninteressante maar skerp foto. Sukses lê dus eerder in die groei en aanleer van vaardighede van die fotograaf self, en soos Gary Player gesê het “hoe meer ek oefen hoe gelukkiger raak ek”.

Ek sien myself as 'n amateur fotograaf wat nog baie moet groei, aangesien ek baie keer die pot mis sit met my samestellings, die beligting nie altyd perfek is nie, veral omdat ek soms 12h00 in die dag 'n foto van 'n leeu wil neem terwyl hy aan 'n karkas vreet en onder 'n boom en tussen struike lê, en jy half gejaag is (binne die park se spoedgrense natuurlik) om betyds by die hek te kom voor toemaak tyd of soos in alle Oos-Afrika parke die tyd waarop jy ingekom het, om sodoende te verhoed dat jy vir nog 'n volle dag moet betaal. Wanneer jy op reis is is daar nie altyd die tyd om vir die regte oomblik of opstelling te wag nie. Soms wil jy net graag die wonderlike gesig of ervaring vaslê as 'n herinnering vir eendag. Baie van die goeie natuur fotograwe, professioneel of amateur, sal dae by 'n watergat sit en wag vir daardie ongelooflike een keer in 'n leeftyd foto en dit is reg as dit jou passie is, maar as reis jou passie is moet jy leer om aanpassings te maak.

Ek het begin toer fotos neem met 'n Canon 3Si brugkamera en van die mooiste fotos daarmee geneem. Maar later het my belangstelling gegroei in natuurfotografie en was my brugkamera net te beperkend veral as ek aksie fotos of voëls wat gewoonlik altyd te vêr is, wou afneem. Die volgende stap is natuurlik 'n SLR kamera, maar net hier loop dinge gou skeef, jy word voor menigte keuse gestel en finansies begin 'n groot rol speel in jou besluitneming.

Die grootste probleem is nie die kamera romp nie maar die bygaande lense. Jy was gewoond om in een kamera 'n wye hoek lens te hê asook 'n redelike lang telefoto lens en deur slegs 'n kontrole na links of regs te verstel en enige fokusafstand was in 'n oogwink beskikbaar.

Met 'n SLR gaan jy 'n wyehoeklens benodig, 'n tussen afstand lens, 'n kort afstand telefoto lens en 'n lang afstand telefoto lens . Die beste wat jy gewoonlik kan doen is om die brug kamera se bereik te kry is met 3 lense wat elk heelwat meer as jou ou brug kamera gaan kos.

My aanbeveling sal wees leer fotografie en kry 'n passie daarvoor met 'n brugkamera. Wanneer jy baie goeie fotos neem en jy soek na perfeksionisme koop dan vir jou 'n SLR nadat jy 'n goeie verhouding met jou bankbestuurder aangeknoop het of heelwat by 'n oujongkêrel oom met dieselfde name as jy, geërf het. Ek sou nie met 'n SLR begin en glo dat ek met 'n klein begroting daar sal kom nie, jy gaan gou moed verloor vanweë jou frustrasies. Wanneer jy aanvanklik begin rondkyk vir 'n SLR kamera, word gou deur die media oortuig dat met Canon of Nikon se intree pakkette, jy vir 'n baie billike prys sommer 'n kameraromp plus twee of drie lense kan kry wat alles kan doen. Baie gou besef jy dat hierdie basiese toerusting nie aan jou behoeftes voldoen nie en dan begin die duur leer proses. Ja ,ek het al die proses deur gegaan en ek praat van ondervinding. (Duur lesse, al het dit aanvanklik goedkoop gelyk, is geleer.)

MY HUIDIGE TOERUSTING:

Ek gebruik tans CANON toerusting vanweë 'n lang storie maar is glad nie teleurgesteld in my besluit nie.

Miskien moet ek tog maar die storie vertel. My eerste keuse vir 'n digitale SLR kamera was 'n NIKON D90 met 'n TAMRON 18-270mm f3.5-6.3 VC Macro lens vir algemene gebruik en 'n SIGMA 150-500mmm F5-6.3 APO DG OS HSM lens vir alles wat vêr was. Die D90 was 'n goeie kamera maar ek het die behoefte gehad om op te gradeer na 'n NIKON D300S, so, 'n nuwe kameraromp was op die tafel, verder het die SIGMA lens my eindelose probleme gegee. Die laaste strooi was toe die stabiliseerder vir die derde keer, op dag twee van 'n sesdaagse Kruger Nasionale Park besoek, gaan staan het en die lens ook nie meer skerp wou fokus nie. Die res van die vakansie was vir my 'n hartseer storie want met 'n 18-270mm zoom lens waarvan die kwaliteit op 270mm nie waffers is nie, gewapen, was die meeste diere en voëls buite my bereik. Die volgende besluite was toe geneem; eerstens koop ek nooit weer 'n lens wat nie deur my gekose kamera vervaardiger self gemaak is nie, die alternatiewe goedkoper make is nie vir my nie, tweedens sal ek graag 'n goeie lang telefoto lens wil besit waarop ek kan vertrou, die enigste probleem was dat hul 'n arm en 'n been kos. Op daardie stadium het NIKON sy lense teen 'n premium verkoop , so tussen 25-30% duurder as CANON vir dieselfde lens en kwaliteit. Met my beperkte begroting effens gerek kon ek toe vir my 'n CANON 7D kameraromp, 'n Canon 18-135mm f3.5-5.6 IS zoom lens, 70-200mm f2.8 IS (Series II) zoom lens asook 'n 300mm f2.8 IS (Serie I) vaste fokuslengte lens met beide 'n 1.4x en 'n 2x vergroter aankoop, terwyl ek net twee derdes van hierdie lysie by NIKON kon kry. Hierdie kombinasie het my 'n bereik van 18mm tot 600mm (of n 35mm ekwivalent 29mm tot 960mm) gegee wat vir my doeleindes aanvanklik perfek was. Die enigste vlieg in die salf was daardie klein voëltjies wat nog steeds te vêr was en die 600mm (300mm + 2x) wat skerp was maar nie perfek nie, te stadig gefokus het vir voëls in vlug. Om hierdie probleem te oorkom moes ek my hand dieper in my sak steek om vir my 'n 500mm f4 (Series 1) lens met 'n 1.4x vergroter te kon aangeskaf. Hierdie 700mm kombinasie (500mm + 1.4x) werk wonderlik vir my in die veld, en neem die skerpste fotos en fokus baie vinnig, maar in 'n motor raak dit baie moeilik om te gebruik vanweë sy lengte en gewig. Hierdie lens kombinasie kan nog suksesvol vasgehou word met die hand maar 'n driepoot bly maar 'n vereiste vir daardie werklike skerp fotos veral op 700mm (35mm ekwivalent, 1120mm). Die tweede belangrike les uit bogenoemde was dat wanneer jy besluit om of CANON of NIKON te koop, jy 'n keuse maak en belê in 'n volledige stelsel en dat dit daarna baie moeilik is om weer van vervaardiger te verander sonder om baie geld te verloor in die verkoop van al jou ou toerusting en die aankoop van soortgelyke nuwe toerusting. Maak dus jou besluit versigtig en wel deurdag. Tans met Canon se nuwe lens reeks wat net soveel kos as Nikon s'n, is die besluit baie moeiliker. Ek sou beide vervaardigers se toerusting vir 'n naweek huur by 'n maatskappy soos ODP of, indien jy 'n baie-baie goeie vriend het, sy toerusting leen vir 'n naweek. Miskien kan hulle dalk saam gaan kuier vir 'n naweek en saam die toerusting evalueer. Julle merk dat ek slegs van twee vervaardigers in die SLR mark praat terwyl daar heelwat meer is soos Olumpus, Pentax en Sony. In my beskeie opinie is daar slegs twee vervaardigers wat werklik top kwaliteit kameras met 'n uitgebreide lens reeks het en waarvan die markwaarde, sou jy later besluit om van jou toerusting te verkoop, hoog bly. 90% van die wêreld se professionele fotograwe kan tog nie verkeerd wees nie. (Natuurlik 'n gevaarlike stelling.)

Omdat ons baie op reis is en gewoonlik op ongebaande weë ry is 'n fotograaf se grootste vyand , naamlik stof, altyd met ons. Dit het tot gevolg gehad dat ek gou besef het dat indien ek my duur toerusting wil beskerm en stof van my kamera se sensors wil af hou die ruil van lense in die veld nie die oplossing is nie. Dit het beteken dat ek op geeindig het met drie kamerarompe, een vir my landskap en algemene fotos met 'n 24-105mm f4 lens, die tweede met die nuwe Canon 100-400mm MKii lens en 'n 500mm f4 met of sonder 'n 1.4x vergroter.

Die hoof rede waarom al my kamerarompe van die APS-C (1.6x kropfaktor) of APS-H (1.3x kropfaktor) sensor tipe is en nie die volraam tipe is nie, is om die ekstra 1.6x of 1.3x vergroting vir natuurfotografie te verkry. 'n 500mm lens op 'n volraam kameraromp het 'n 35mm ekwivalente fokusafstand van 500mm maar op ’n APS-C kameraromp het 'n 35mm ekwivalente fokusafstand van 800mm. Die nadeel van 'n APS-C sensor kamera is dat 'n wye hoek lens se effektiwiteit soortgelyk afneem, 'n 10mm lens word nou effektief 'n 16mm lens. 'n Volraam sensor het weer op sy beurt 'n groter pixels wat weer beter dinamiese bereik het veral teen hoër ISO waardes (swak lig toestande) en beter resolusie verskaf wanneer fotos vergroot word.

AS GEVOLG VAN BOGENOEMDE REDES BESTAAN MY LYS UIT DIE VOLGENDE:


2 x CANON EOS 1D MK IV “body” met 1.3x kropfaktor (“crop factor”) en 2 batterye (kamera, tweedehands gekoop by 'n ODP forum lid).
1 x CANON EOS 7D MK II “body” met 'n 1.6x kropfaktor en twee batterye.

1 x CANON EF-S 10-22mm f3.5-4.5 USM wye hoek zoom lens
1 x CANON EF 24-105mm f4 L IS USM (Series I) zoom lens.
1 x CANON EF 70-200mm f2.8 L IS USM (Series II) zoom lens
1 x CANON EF 100-400mm f4.5-5.6 L IS USM (Series II) Zoom Lens.
1 x CANON EF 500mm f4 L IS USM lens (Series I) vaste fokuslengte lang telefoto lens.
1 x CANON EF 100mm f2.8 USM makro lens (word tans nie baie gebruik nie)
2 x CANON EF 1.4X vergroter (Series III)

1 x SILK PRO 700 DX driepoot wat 6.8kg kan dra, 'n maksimum hoogte van 1.9m het en baie stabiel is.
1 x BENCO B3 Balkop vir driepoot
1 x BENCO GHA Syarm
1 x Manfrotto 680B enkelpoot kamera en lens stut met 'n Manfrotto 234RC kantelkop en skouer stut
1 x CANON Speedlite 580 EX II flits
1 x Flash Extender
1 x CANON Macro Ringlight MR-14 EX
1 x CANON RS-80N3 Afstandbeheer
2 x Polaroid filters (Ø67mm en 'n Ø72mm)
4 x TRANCEND 16GB UDMA 600x CompactFlash geheuekaart
2 x LEXAR Professional 32GB UDMA 7 800x CompactFlash geheuekaart
1 x CANON LP-E6 12V Motor battery laaier.

1 x Think Tank Airport International V2.0 kameratas met wieletjies
1 x Think Tank Glass Taxi dra/rugsak vir my 500mm f4 Lens
1 x Braun holster tipe kamerasak vir 'n 7D met 'n 24-105mm F4 lens vir algemene gebruik.

Laaste Bywerking: 2015/06/16

Flag Counter