ONS 1993 TOYOTA HILUX RAIDER, DUBBELKAJUIT, 4x4,
2.2 LITER (4Y) / 2.7 liter (3RZ-FE) PETROL

Na ons ontnugtering met die X-Trail besluit ek om in 2007 vir ons 'n ou Hilux D/C 4x4 met starre voor en agter aste aan te skaf. Op die internet vind ek toe die regte Hilux met relatief min kilometers by 'n motorhandelaar en na 'n paar rondtes se onderhandeling kom ons ooreen dat ek 'n Mazda Leisure 1600i gelykop kan inruil. So bekom ons toe ons eerste werklike 4x4 met lae strek en starre voor en agter aste.

Na die eerste rondte opgraderings.
Ons Hilux met alles soos ek dit wou hê

Gedurende die jaar het ons die volgende modifikasies aan hierdie netjiese Hilux van ons aangebring:

  1. Die eerste wat volgens my, na baie oplees, vervang moes word was natuurlik die standaard skokbrekers en vere. Hulle is met 'n LA Sport TJM stelsel vervang wat die voertuig ook dadelik 'n 50mm hoër laat loop het. (Sommer spoggerig het ek gedink, maar met retrospek nie 'n goeie modifikasie nie aangesien dit die voertuig onstabiel in diep sand spore gemaak het vanweë die oordadige rol as gevolg van sy hoë swaartepunt. Vir heg en steg (naweek 4x4 roetes) was dit egter ideaal.)
  2. Die volgende was natuurlik 'n Safari snorkel. Die oorspronklike lugfilter was deur die vorige eienaar vervang met 'n vryvloei lugfilter met die hoop op 'n beter brandstof verbruik. Natuurlik totaal ongeskik vir die doel waarvoor ons die voertuig gekoop het. Ek het toe by Toyota Spares in Van Der Hoffweg in Pretoria weer vir my die oorspronklike lugfilter houer en pype gekoop en ingesit. Die snorkel is toe hieraan gekoppel soos aanvanklik die ontwerp was.
  3. Daarna het ek self die voorste buffer verander om 'n wenas te kon akkommodeer. Ek het 'n universele wenas basisplaat bekom, hom aan beide kante effens korter gemaak sodat hy tussen die Bulbar se twee vertikale pype kon inpas. Daarna het ek die basisplaat stewig aan die buffer en onderstel hegtingsplate op die buffer, vas gesweis. Ek het daarna 'n LA Sport 9000i (9000lb) wenas ('n Come-Up DV 9000i kloon) laat installeer. Ek het ook twee pyp tipe hoë lig domkrag ("High Lift jack") punte aan die onderkant van die voorste buffer, aan sy onderstel hegtingsplate, vas gesweis.
  4. Voorbeeld van die universele wenas basisplaat wat ek gebruik het.

    'n Voorbeeld van die tipe wenas wat ek laat installeer het.

    Die wenasbasisplaat met wenas gemonteer en 'n vynieloorteksel om hom teen die elemente te beskerm asook die hoogligdomkrag optel punte (ronde pype aan weerskante van nommerplaat) is hier te sien.

  5. Vir beter nag bestuur in afgeleë plekke het ek ook twee Hella Comet 500 kolligte laat installeer, dit was voordat ek besef het 'n mens ry NOOIT in die nag in Suider Afrika nie, met natuurlik die uitsondering van groot dele van Suid Afrika, vanweë die baie loslopende diere langs die pad.

  6. Na 'n bietjie navorsing besluit ek ook om 'n National Luna batterykas met ingeboude laaier aan te skaf en in die laaibak voor links met belde vas getrek het, te installeer. Ek het die nodige 16mm2 kabels vanaf die aanskakel of hoof battery voor in die enjinkompartement aangelê na die voorkant van die laaibak en die twee kabels in 'n rooi Brad Harrison prop laat eindig wat lank genoeg was om voor in die National Luna batterykas te kan inprop. Die batterykas het ek met 'n 105 Amp Delco diep siklus battery toegerus. Sien die onderstaande verwysing vir meer detail t.o.v. die installasie van so 'n batterykas. Klik hier vir: Data State

    Die beheer paneel op die batterykas koppel met die drade vanaf die aanskakel battery met behulp van 'n rooi Brad Harrison 12V 50 Amp prop. Die batterykas beheerpaneel het 'n addisionele Brad Harrison 12V 50 Amp uit prop (grys) asook een Hella 12V 15 Amp en een Sigaretaansteker tipe 12V 15 Amp uitproppe. Enigeen van hiervan proppe kan vir 'n 12V yskas / vrieskas gebruik word.

  7. Aangesien ek van tyd tot tyd foto’s op ons reise op my skootrekenaar wou aflaai en redigeer moes ek 'n doodgewone 'n 12V GS na 220V WS omskakelaar installeer. My eerste poging met 'n klein 350W eenheid het my gou geleer dat nie alle skootrekenaars dieselfde kragverbruik het nie en dat groter en sterker rekenaars meer drywing benodig veral om aan die gang te kom. Ek het daarna 'n AutoPro 800W omskakelaar van AutoZone, met 'n 800W kontinue lewering en 1600W maksimum lewering vir 'n baie kort tydperke bo op my National Luna batterykas geïnstalleer. Onthou dat indien jy 1 Amp per uur teen 220V benodig, jy 18.3 Amp per uur teen 12V uit jou battery gaan trek. 'n 800W omskakelaar kan soveel as 3.6 Amp teen 220V lewer op aanvraag dus moet jou verbinding kabels tussen jou omskakelaar en jou battery minstens 66.6 Amp deurlopend kan hanteer. Gebruik dus minstens 36mm2 kabels. Daar is ook nog 'n verdere probleem waarvan ek aanvanklik nie geweet het nie en dit is dat jou omskakelaar, of hy gebruik word of nie, stroom benodig om op bystand te bly en indien jy nie 'n groot swaarstroomskakelaar tussen jou battery en die omskakelaar se positiewe draad insit nie, jy oor 'n kort tydperk 'n battery so pap kan trek dat jy hom nie weer kan laai nie. Dit gebeur veral as jy na jou vakansie die voertuig vir 'n week of twee nie gebruik het nie.

    Die AutoPro 800W 12V na 220V omsetter voordat ek die swaarstroom isolasie skakelaar op die positiewe draad geinstalleer het. Onthou jy gaan 'n kassie nodig hê om die pole van die skakelaar in toe te maak vir veiligheid (12V teen 66 Amp maak 'n ernstige vonk en kan baie maklik 'n brand veroorsaak).

    'n Voorbeeld van 'n tipiese swaarstroom isolasie skakelaar te koop by enige motorspaarparte handelaar.

  8. Om die wind geraas te verminder wanneer die vensters oop was het ek 'n stel polycarb windskerms, gemaak deur CMD Commander Shields (Troye Straat 158, Sunnyside , Pretoria), aangeskaf en vasgesit. Hierdie skerms plak op die deurraam vas met 'n dun lagie self plak hoë digtheid spons. Hierdie skerms het nooit losgekom terwyl ons gery het of tydens hoëdruk- skoonspuit operasies nie.
  9. Die sitplekke het ons met 'n stel grys seil sitplekoortreksels van Escape Gear oorgetrek om die sitplekke te beskerm teen stof en soms selfs modder.
  10. Die soektog het daarna begin om een addisionele aluminium wielvelling te bekom vir 'n sesde wiel. Skrootwerwe wil net 'n stelle van vier wielvellings aan jou verkoop en na seker drie maande kom ek op 'n Hilux DC af wat gerol het en sleg beskadig was tydens die ongeluk. Gelukkig was twee van sy wielvellings ook in die ongeluk beskadig en kon ek die eienaar oortuig om net een wielvelling aan my te verkoop.
  11. Die bakkie het 5 baie goeie Goodyear Wranglers RT/SL (245/75 R15) bande nog opgehad en ek het dus nie 'n ander keuse gehad as om 'n soortgelyke band vir die tweede spaarwiel aan te koop nie. Hierdie bande het hul uitstekend van hul taak gekwyt in alle 4x4 omstandighede. Die voertuig is later met die selfde stel bande verkoop.
  12. Om die tweede spaarwiel te kon saamry moes ek 'n spaarwieldraer prakseer op die agterste buffer. Die probleem was dat die agterste buffer bestaan het uit twee 50mm deursnee pype met 'n wanddikte van minder as 2mm. Ek het toe die oorspronklike pype uitgesny twee nuwe pype met 'n wanddikte van 3.2mm ingesweis en my spaarwiel draer se skarnier punte daarop vas gesweis. Die arm draai op 'n Vesconite bus wat 'n vriend vir my gedraai het en in die swaaiarm pas. Laers is glad nie nodig nie aangesien die arm nie meer as 120 grade op 'n keer swaai nie. Ek het hierdie metode op die X-Trail, 1993 Hilux en 2008 Hilux gebruik en nooit enige probleme ondervind, ten spyte van al die stofpaaie. Die Vesconite bus word natuurlik nooit geolie nie.

    My tuisgemaakte spaarwieldraer reg om te ry.
    Spaarwieldraer oop met hoogligdomkrag in plek.
  13. Terwyl ek die agterste pypbuffer moes opgradeer om die swaar tweede spaarwiel en swaai arm te kon akkommodeer het ek sommer ook twee hoogligdomkrag punte ook vasgesweis en die standaard tou haak vervang met 'n bal-en-pen tipe soos te sien is op bostaande foto.
  14. My volgende verbetering was om 'n tweede langafstandtenk te installeer. Met die hulp van my vriende by G&G Motordienste het ons 'n standaard Hilux 65 liter tenk geneem, 'n pyp wat die twee tenks verbind laat insit sodat beide deur die oorspronklike vullerpyp saam gevul kon word. Verder was dit ook nodig om 'n lugpyp of asemhalingspyp van die tweede tenk na die vullerpyp aan te lê om sodat die lug in die tweede tenk te kon laat ontsnap wanneer die tenks gevul word. Die petrolpomp suig dan uit beide tenks gelyk brandstof deur die oorspronklike uitlaat. (NB!! Onthou om beide tenks te verwyder uit die voertuig, hul leeg te maak en dan met water te vul om al die petrol dampe uit die tenks te kry, die water dan te dreineer en te wag totdat hulle weer goed droog is voordat jy begin Silver sweis op hulle.)
  15. Wat ek wel gedoen het vir daardie water kruisings in Moremi wat soms 'n bietjie diep kan wees was om die ratkas, voorste en agterste ewenaars se asemhalings pype te verleng tot hoog op in die enjin kompartement en in die spasie tussen die laaibak en die kajuit. Ek het standaard parte van die rak af gebruik. Die klep aan die einde van jou verleng pyp is 'n standaard Toyota part (Part No.: 90930 03031, “Plug, Breather”), die pyp is 6mm laedruk- hidroliese rubberpyp (benodig so 4m vir die drie pype). Jy mag natuurlik jou voorste ewenaar en ratkas pype met 'n T-stuk koppel as jy wil en sodoende die hoeveelheid pyp verminder. Jy sal ook drie geelkoper 1/8” BSP x 6mm tapbout pyp koppelstukke nodig. Die pype kan jy plek-plek vasmaak met 5mm x 200mm kabelbinders (“Cable Ties”). Maak net seker die kleppe sit hoër as wat jy verwag die water kan kom as jy deur 'n diep water kruising gaan. Die foto hier onder wys hoe my ou Hilux se opstelling voor in die enjinruim geëindig het en bevestig is. Die kleppie is duidelik in die rooi sirkel te sien.


  16. Vir die mooiheid het ek 'n stel Toyota Hilux Overfenders bo die voorste en agterste wiele laat aanbring. Sien installasie instruksies hier: Klik vir PDF Dokument
  17. Die volgende was 'n stel Toyota rubber flappe agter die voorste wiele om die voertuie se bakwerk self teen opspat klip te beskerm. Agter die agterste wiele het ek 5mm dik rubber modderflappe self gesny en vasgesit om voertuie wat agter ons sou ry teen opskiet klippe te beskerm.
  18. Vir ons eerste toer in 'n groep (RSG4x4) het ek 'n 29MHz radio laat installeer. Volgens navrae was 'n GME GX300 die radio en die beste antenna 'n ZARA antenna bestaande uit 'n SS10 veër konneksie, 'n W29S wip en 'n J240/Zara Magnetiese basis. Die radio het ons vertikaal aan die passasierskant gemonteer teen die ratkas tonnel. Ek sou eerder 'n meer permanente antenna basis aanbeveel aangesien die magneet sy vaskleef vermoë met tyd verloor en maklik deur takke van die voertuig afgeklap word.



    http://www.webb.co.za/pdf/1187_2832_WEBB%20ZARA27S%20ZARA29S%20ZARA40S.pdf
    http://www.webb.co.za/pdf/609_4662_WEBB%20Mobile%20Antenna%20Accessories.pdf

  19. Die bakkie het aanvanklik 'n glasvesel kappie op gehad met 'n soliede aluminium agterdeur wat terug stoot bemoeilik het. Om hierdie probleem te oorbrug het ek 'n tru-kamera en skerm stelsel geïnstalleer van KLARE TECHOLOGIES. Die skerm het soos 'n truspieël gelyk en aan die voertuig se bestaande truspieël vasgeknip. Die enigste probleem was wanneer die kamera in die son in kyk was die beeld totaal oorbelig en kon jy niks sien nie.


  20. Ons het vir ons 'n 45 liter Snowmaster 4x4 12V/220V yskas aangeskaf en agter in die laaibak aan die linkerkant agter met belde aan kort stukkies "cargo rail" wat ek met 6mm klinknaels vas gesit het aan die bak, vas getrek.
  21. Om die verveeldheid van lang afstand reise te verdryf het ons vir ons 'n Radio/CD/MP3 speler van Pioneer laat installeer (Pioneer DEH-3050UB). Hierdie eenheid het 'n USB poort voor op die radio vir 'n geheuestokkie met musiek daarop. CD's vaar nie te goed op rowwe paaie nie en ek kan jou waarborg op afgeleë paaie werk jou radio ook nie.


  22. Na ons eerste groot reis deur die Richtersveld en deur die Namib woestyn van Ludritz na Saddle Hill en terug het ek besef dat die 2.2 liter 4Y enjin net nie genoeg krag het om saam met die nuwe generasie bakkies en die 4.5 liter EFI Land Cruisers te kan hou nie. Ek besluit toe om 'n 2.7 liter (3RZ-FE) enjin in ons Hilux in te bou.

    Die skenker was 'n 2004 Hilux Raider 2700i dubbelkajuit wat gerol het. Die motor was in 'n uitstekende toestand en het slegs 60616 km op die klok gehad. Saam met die span van Wannenburg Bakkie Onderdele in Pretoria-Noord het ons die enjin met sy bedrading en beheerstelsel uitgehaal. Die sleutels het die oorspronklike eienaar aan my gestuur, ons kon dus sonder enige probleme met die oorplantings proses begin.

    Geen snywerk aan die voertuig se bak of onderstel of enige sweiswerk was nodig nie. Die 3RZ pas perfek in. Aan die regterkant tussen die enjin se montering en die montasie op die voertuig moes ons 'n 6mm spasieerder insit om die enjin so effens te kantel om sodoende seker te maak die enjinkap sal reg toe maak. Die bestaande ratkasbout net so vas aan die enjin sonder enige spesiale hegtings plate. Die oorspronklike verkoeler het ons vervang met die van die 2700i Hilux. Die luginlaat op die 3RZ sit aan die regterkant en nie aan die linkerkant soos op die 4Y enjin nie. Ons moes toe 'n spesiale pyp van 76mm staalpyp laat opmaak om sodoende die bestaande lugfilter met sy snorkel te kan gebruik. Die uitlaatpyp moes ook spesiaal opgemaak word omdat die uitlaat ook aan die teenoorgestelde kant as die van die 4Y was. Die tweede brandstoftenk het dit ook nie te maklik gemaak nie.

    Aangesien die 3RZ 'n brandstof inspuiting stelsel het, moes ons 'n hoëdruk- petrolpomp installeer en omdat ons die pomp nie in een van die tenks wou monteer nie moes ons toe 'n eksterne Mercedes Benz petrolpomp installeer. Dus die enigste nie Toyota part op die voertuig.

    Die oorspronklike enjin bestuurstelsel wou nie saamwerk nie en ons het toe besluit om 'n GOTECH MFI PRO beheerstelsel te installeer. Die 3RZ kon daarna maklik op 'n dinamo gekalibreer word. (JD Performance, Pretoria.)

    Die installasie was deur Gawie en Gert van G&G Motordienste gedoen. Absoluut professioneel, jy sou nie kon se dit was nie deur Toyota self gedoen in hul fabriek nie. Volgens my was die oorplanting meer as suksesvol. Brandstof verbruik was so 0.5 km/l beter met meer krag en draaimoment beskikbaar.

    Vergelyking tussen die Standaard Toyota 4Y en die Toyota 3RE-FE Enjins

    Die 3RZ-FE het natuurlik 'n elektroniese ontstekingstelsel en dus moet die toereteller ook met die enjin bestuurstelsel gekoppel word en daarna natuurlik ook gekalibreer word. Instrument 2000 in Pretoria het my Hilux s’n gedoen.

    Die uwe besig om die olie in die 3RZ-FE na te gaan. Behalwe vir die dag se stof kan die netheid van die ombouing duidelik gesien word.

    Foto’s van 'n soortgelyke ombouing gedoen deur 4xTech in Brackenfel in die Kaap kan hier gesien word. Klik vir PDF Dokument. 4xTech het ongelukkig 'n paar jaar gelede hul deure gesluit.

  23. Om die Hilux se rem vermoë te verbeter het ek besluit om 'n stel Land Cruiser geventileerde remskywe voor te installeer. Om dit te kon doen het ek 'n 4xTech modifikasie aangekoop en ingesit wat bestaan uit 'n 8mm spasieerder wat tussen die twee “caliper” helftes in pas, twee effens langer remblok posisionering penne, twee klein rubber O-ringe, 'n stel Ferrodo Ceramic FDB 288-CER remblokke en natuurlik 'n stel geventileerde Toyota Land Cruiser 75 voorste remskywe. Hierdie modifikasie was werklik die moeite werd.

    Foto: 4xTech
    Foto: 4xTech
  24. Omdat ons besluit het om ook van tyd tot tyd alleen te reis het ek besluit om vir die Hilux ook 'n ewenaar slot agter te laat inbou. My keuse het op 'n vakuum beheerde ewenaar slot van Gearmax geval aangesien Toyota en Gearmax die laaste van die SFA Hilux, die sogenaamde LTD Edition in 1997 standaard met hierdie stelsel toegerus het.
  25. Ek het ook gou besluit om die glasvesel kappie waarmee ek die bakkie gekoop het, te vervang met 'n aluminium kappie waarvan die sykante kon oopmaak. Die gesukkel om items wat voor in die laaibak was uit te haal en in te sit deur elke keer in te klim het my sommer gou-gou oortuig. Ek het toe begin om my eie kappie te ontwerp en hom toe later self gebou.
  26. Nadat ek al die voor en nadele bekyk het, het ek besluit om die raam van 2mm staalbuis pyp te maak en die deur en dak panele van 2mm "checkered" aluminiumplaat. Die deurrame op die sy en agterste deure was van 'n spesiale aluminium U-seksie wat gewoonlik vir stortdeure gebruik word gemaak. Die aluminium seksies en plaat het ek by Non-Ferrous-Metals (NFM) in Pretoria gekoop. Om toegang agter te verbeter en ook om seker te maak die kappie sluit stofdig het ek die agterste klap van die laaibak verwyder en die kappie die volle hoogte vanaf die vloer tot by die dak benut vir die agterdeur. Hierdie was die enigste kappie wat ek besit het wat ten volle stofdig was. Die deur rubber was van 'n baie sagte rubber gemaak en het byna geen krag op die skarniere uitgeoefen wanneer die deur toegemaak word nie. Wees dus versigtig om nie stywe rubber seëls te gebruik nie aangesien die area wat saamgedruk moet word die volle omtrek van die deur maal die wydte van die rubber seël is.

    Die agterkant van ons die bakkie se kappie. Die deur aan die regterkant was vir ons yskas wat aanvanklik in en uit gegly het op 'n yskas glybaan maar later het ons gevind dat dit makliker was om toegang tot die yskas te verkry deur die deur aan die sykant van die kappie. Die linker deur het ons gebruik wanneer ons groot of swaar items soos tente wou laai.

    Om toegang tot die Outdoorwarehouse tipe ammunisiekratte te vergemaklik het ek 'n staal rak bo voor in die kappie met gegalvaniseerde glybane gebou en vas gesweis. Toegang was deur die kleiner deur aan die regterkant van die kappie. Die raam kon drie standaard ammunisie kratte huisves en een kleiner houer. Ons kos, potte en panne, elektriese verleng kabels en konneksie proppe, spaar onderdele en allerlei herstel items (gomme, isoleerband, moere en boute, etc.) was hierin gehuisves.

    Die ammunisiekratrak in ons kappie met die kratte wat in hom gepas het. Die ammunisiekratte was in plek gehou deur die blou belde vas te trek.

    Omdat baie woonwaparke en kampterreine nou al 220V beskikbaar het, het ek besluit om 'n klein elektriese beheerkas in die Hilux kappie in te bou om sodoende die 220V veilig te kon ontvang en na 12V om te skakel vir die yskas en die 12V kampeer ligte wat ons binne en buite ons tent gebruik het. Die elektriese beheerkas het uit die volgende bestaan; 'n 220V 30 Amp grondlekkasiebreker, 'n standaard 220V 15 Amp stroombreker, 'n 220V kombinasie prop met drie 16 Amp driepunt sokke en drie plat tweepunt, elk met sy eie skakelaar en 'n 220V wisselstroom (WS) na 12V gelykstroom (GS) gereguleerde transformator. Die 220V toevoer na die kappie was gedoen deur 'n standaard weerbestande woonwa prop van CI Caravans, links agter op die kappie te sien. Die yskas kon op die beheerkas self aan of af geskakel word. Met 'n tweede skakelaar kon ons kies tussen battery krag of 12V via die 220V stelsel.

    Om die kappie af te rond het ek 'n dakrak of liefs 'n dak raam bo op die kappie geïnstalleer wat die hoogligdomkrag gehuisves het aan die regterkant en aan die linkerkant 'n 2.5m Howling Moon Alu-Awn seil afdak. Om die windvloei oor die voertuig effens te verbeter het ek 'n skuinsplaat voor aan die dakrak/dakraam aangebring. Die agterkant van die dakraam het onder nie 'n balk gehad nie sodat die reënwater maklik agter kon afloop.

    Ek het ook later 'n tuingraaf boop die kappie se dak net langs die hoogligdomkrag met 'n Front Runner graaf hegstuk vasgemaak.

    Die hoogligdomkrag en Howling Moon Alu-Awn is duidelik te sien bo op die kappie.
  27. Ek was altyd bekommerd oor die gewig wat ons saamry maar wou nie nog 'n stel bladvere laat insit nie omdat die bakkie dan baie stamperig sou wees as hy nie gelaai was nie. Die oplossing was 'n "Roadmaster Active Suspension" stelsel. Die stelsel bestaan uit 'n helper veer wat aan die as met effens langer bladveer U-boute vasgetrek word en aan die ander kant om die agterste bladveer hegtingspunt hak. Hierdie veer werk slegs as die bladveer sovêr sak dat die ekstra of helper veer verleng word. Hy werk dus net as hy vrag dra. Die bakkie se agterend sak dus ook nie oormatig met vrag nie.

Lesse geleer:

  1. Indien jy graag met jou 4x4 wil toer is dit werklik nie nodig om jou voertuig so hoog te lig nie. Daar is 'n groot verskil om 'n 4x4roete te ry met sy uitermatige heg en steg hindernisse en om teen 30-35 km/u in diep sand of op 'n ongerepte tweespoorpad te moet ry. As jy 4x4 roetes wil ry lig gerus jou voertuig so hoog soos jy wil maar wanneer jy toer is 'n vryhoogte van 250mm meer as genoeg vir byna alle natuurlike veld hindernisse. As jy toer soek jy die beste roete uit en jy storm nie deur die slegste plekke nie. Onthou jy moet weer al die pad terug ry ook.
  2. 'n Snorkel se hoof funksie is om stof uit jou motor se enjin / filter te hou en nie soseer om water uit te hou by diep rivier kruisings nie. Toets dit gerus.
  3. 'n 29 MHz radio beteken niks. Sy reik afstand is net te kort vir werklike konvooi ry veral as jy effens moet terugval vanweë digte stof. Die oplossing bly maar 'n VHF radio met 'n veel langer reikafstand.
  4. Gebruik 'n meer permanente basis vir jou tweerigtingradio se lugdraad, magnetiese basisse werk nie te goed in die bos nie tensy jy hom iewers stewig kan vasmaak. 'n Magnetiese basis het ook die neiging om jou verfwerk vanweë stof te beskadig met tyd.
  5. Vir toer het jy 'n kappie nodig waarvan die sykante kan oopmaak om toegang tot jou vrag ten alle tye te vergemaklik.
  6. Jy ry NOOIT op afgeleë paaie sonder 'n tweede spaarwiel nie en ook NOOIT sonder 'n band herstel stel nie (proppe (wurms en gom) en die gereedskap om lekke self te kan herstel langs die pad).

Kwai rivier kruising noord van Moremi – Botswana
Die ou Vierde brug in Moremi – Botswana
Suda Pan suid van Kubu Eiland – Botswana
Kampering by Riemvasmaak se warmbron - RSA
Sendelingsdrif se pond tussen RSA en Namibië
In die Namib tussen Ludritz en Saddle Hill - Namibië
Aus se vriendelike “wilde” perde op soek na 'n appel – Namibië
Malolotja Nasionale Park - Swaziland

Laaste Bywerking: 2013/01/18

Flag Counter