HERMIEN SE 2004 TOYOTA LAND CRUISER 4.2 LITER DIESEL KAMPEERDER

Toe die realiteit van ons lang beplande reis na Oos-Afrika begin insink het ek en Hermien gou besef dat ons huidige 2008 Toyota Hilux3.0 D-4D Dubbelkajuit 4x4 dalk te lig in die broek gaan wees vir die paaie wat ons beplan om te ry en verder kon Toyota SA nog nie die fout wat ons met die diesel stelsel ondervind het na my mening suksesvol oplos nie. Ons het toe besluit dat dit tyd was om maar vir ons 'n Toyota Land Cruiser aan te skaf. Daar is op 'n 4.2 diesel donkie besluit vanweë die feit dat hierdie voertuie algemeen in Oos-Afrika beskikbaar is en sodoende ook parte indien nodig.

Die tweede probleem wat ek moes oorkom was die feit dat Hermien nie kans gesien het om op 'n 70 dae lange reis, elke aand tent en kamp op te slaan en dan weer soggens alles op te pak voordat ons kon ry nie. 'n Kampeerder sou dus die regte oplossing gewees het. My eerste gedagte was om 'n dubbelkajuit LC bakkie met iets soortgelyks aan 'n AHA kampeerder daarop te soek, of om 'n Meano dubbelkajuit te koop en dan self 'n kampeer eenheid te ontwerp en te bou wat aan ons behoeftes sou kon voorsien.

Ons ontdek toe 'n besondere voertuig te koop op GUMTREE, 'n 2004 Toyota Land Cruiser 4.2 diesel enkelkajuit met 'n permanent gemonteerde kampeerder wat spesifiek vir sulke reise ingerig was. Die voertuig het so pas per skip vanaf Alexandria in Egipte terug gekom nadat die eienaar dit tot in Egipte vanaf Suid Afrika gery het. Hierdie ontdekking het my planne sommer heeltemal deurmekaar gekrap. Watter vrou, in Hermien se situasie, sou nie swig vir 'n advertensie soos hier onder aangetoon nie.



Ons het nog dieselfde week Oos-London toe gevlieg en nadat ek die voertuig wat toe nog minder as 69000km op die odometer gehad het, meganies goed deur gekyk en net daar en dan op hom verlief geraak. Ons het toe besluit om hom te koop en het sommer met hom terug gery Pretoria toe.


Voor ons vertrek na Oos-Afrika en sedertdien het ons die volgende veranderinge aangebring:

  1. Die oorspronklike skottelgoed opwasbak en gasplaat kombinasie is uitgehaal en vervang met 'n meer praktiese ontwerp vir ons behoeftes. Die redes was as volg; aangesien ons baie keer ry waar water skaars is, het ons die pypstelsel wat water vanaf die ingeboude tank na die geyser en daarna na die elektriese kraan op die opwasbak ontkoppel en 'n dood gewone 5 liter waterhouer waaruit water soos benodig gegooi kan word en die werklike hoeveelheid beskikbaar duidelik sigbaar is, vervang. Die nuwe uitleg stel ook 'n hele ammunisie kas beskikbaar vir parte en nood onderdele aangesien die potte en panne nou in 'n standaard ammunisie kas bo op die kombuis eenheid pas en dadelik byderhand is.
  2. Ek het al die slotte vervang met meer moderne draai en vastrek slotte wat makliker werk vir dames as die T-bar sleutel slot konsep.
  3. 'n Nuwe CTek D250S Dual GS-GS 20 Ampere battery beheer en laai stelsel met direkte sonpaneel inset punt as ook 'n CTek MXS 10 220V batterylaaier stelsel is geïnstalleer.
  4. Die standaard woonwa ligskakelaars is vervang met dood gewone 220V woonhuis eenhede van CBI Electric (R 19.00 elk) waarvan die voorpanele effens gemodifiseer is, sien foto hieronder. Die ou woonwa eenhede het nie meer goed kontak gemaak nie en vervangings eenhede vanaf CI Woonwaens het al moeiliker verkrygbaar en baie duur geword (R68.00 elk).
  5. Deur 'n addisionele laaghout plank wat onder een van die enkel beddens se matras inskuif, kan die twee enkelbeddens in 'n dubbelbed verander word vir daardie baie koue nagte.
  6. Die ses standaard Yokohama Super Hajari 7.5 x 16” bande met binnebande en staal “split rim” wielvellings is vervang met netjiese Toyota LC 100 GX 6.5J x16 staal wielvellings (Toyota Part Nr. : 42601 60610) wat toegerus is met 235/85x16 Yokohama Geolander GO12 ATS straallaag bande sonder binnebande. Laasgenoemde maak dit baie makliker om 'n lek reg te maak met behulp van 'n prop eerder as om die buiteband te moet verwyder die binneband uit te haal en die reg te maak en dan die binneband weer terug te sit en die buiteband dan weer op die wielvelling te kry. Ongelukkig het die Yokohama Geolander GO12 ATS bande skaars 30000km gehaal voordat hul een vir een begin disintegreer het. Sedertdien het ons hulle met BF Goodrich All-Terrain T/A KO Straallaag bande vervang.
  7. Een van die belangrikste veranderinge was die installering van 'n banddruk en temperatuur monitor stelsel (TPMS). Ons het op 'n TIRE MONI TM-260 ses wiel stelsel besluit. Die voordeel van hierdie stelsel is dat jy gewaarsku word wanneer die druk in die band begin sak of as die band temperatuur begin styg. Jy kan dus stop en die nodige herstelwerk doen voordat jy die band afskryf. Een band gered, het jy reeds die stelsel ten volle afbetaal.

    HIERDIE IS OOK EEN VAN DIE BELANGRIKSTE VEILIGHEIDSSTELSELS WAT JY KAN INSTALLEER OM JOU GESIN EN VOERTUIG TE BESKERM.

  8. Ek gebruik die binneste bande op die monitor vir my twee spaarwiele.

  9. Die skokbrekers op die voertuig is vervang met nuwe Old Man Emu (OME) Nitrocharger skokbrekers. Hierdie verandering het geblyk nie suksesvol te wees nie aangesien ons die eerste skokbreker in Nairobi na 10000km moes vervang en die res op 19000km.
  10. 'n Kenwood TK-7302, 16 kanaal, VHF radio en antenna is geïnstalleer met die nodige LCCSA en ORRA frekwensies daarop geprogrameer (Let asseblief daarop dat jy 'n wettige lisensie van LCCSA en ORRA moet besit om vermelde frekwensies te mag gebruik).
  11. Om twee 20 liter jerriekanne met diesel voor op die dakrak te kon saamry, moes ons die 65 liter watertenk bo op die dakrak vervang met 'n 40 liter eenheid wat langs die dubbel jerriekan en die tweede spaar wiel kon inpas.
  12. Die doelgeboude dubbeldeur Minus 40 yskas/vrieskas kombinasie is later vervang met 'n ARB 47 liter yskas/vrieskas wat heelwat minder krag verbruik.
  13. 'n Howlingmoon Leisure-Awn 2.5m verkort na 2.2m opvoubare afdak is ook later permanent aangebring om sodoende die los afdak met sy los pale te kon vervang.
  14. Die linker agterste aluminium kas is in twee verdeel om twee 3kg gas bottels in plaas van die een 5kg gas bottel te kan berg. Die nuwe konfigurasie stel ons ook in staat om 'n los gasbottel met sy eie kook plaatjie wat ons kan rond dra ook saam te ry. Indien die gasbottel wat die voertuig se kombuis bedien leeg raak ruil ons net die bottels om. Saam het ons so 5-6 weke se gas verbruik. Onthou dat ons Suid Afrikaanse gas bottels nie in lande soos Tanzania, Kenia, Malawi en Uganda gevul kan word nie aangesien hulle 'n ander grootte skroefdraad aan die bokant van die gasbottel het waaraan gekoppel moet word as wat ons in Suid Afrika gebruik . Die stelsel in hierdie lande werk ook op 'n silinder ruil eerder as 'n vul stelsel om veiligheidsredes.
  15. Om al die baie batterylaaiers, selfoonlaaiers, los drade, ensovoorts netjies te kon bêre maar ook byderhand te hê wanneer benodig het ons vir ons 'n Caracal Leather and Canvas instrument paneel beskermer aangeskaf. Hierdie beskermer het twee sakkies met ritssluiters wat al bogenoemde los items kon hou. Om die son se hitte opbou in die sakkies tee te werk het ons blink borrel isolasie stroke gesny en binne in die deksels vas gesit.
  16. Aangesien alle Land Cruiser bakkies geen kaart sakke in die deure het nie het ons aan elke kant 'n wonderlike alternatief geïnstalleer, Caracal Leather and Canvas se doelgemaakte saalsakke wat onder aan die kant van die sitplekke se voetstukke met velcro stroke vasgemaak word. Aangesien dit ook ritssluiters het kan jy items soos jou beursie en paspoort tydelik daarin bêre. Vir veilige bewaring van geld en jou paspoort wanneer jy nie grense oorsteek nie sal ek eerder 'n ingeboude kluis soos hierdie voertuig het, laat insit.

Die afgelope twee jaar het ons reeds 34000 km met hierdie wonderlike voertuig getoer deur die mooiste dele van Afrika maar ook oor van die moeilikste terrein wat Afrika kan bied. Behalwe vir 'n aanskakel battery (my fout, het die wenas gebruik om 'n ander voertuig te herwin en vergeet om my voertuig te laat luier tydens die proses, het sodoende die battery so plat getrek dat hy nie weer kon laai nie), 'n stel skokbrekers en bande het ons nog nooit nodig gehad om enige herstel werk aan die voertuig te doen tydens enige van ons reise nie.

Laaste Bywerking: 2013/12/18

Flag Counter